DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Kaptein Dirk Lingenvelder kyk oor die Mirage F1 CZ se lang neus…….

Kaptein Dirk Lingenvelder laat sak die slapbandboek op sy skoot en kyk oor die Mirage F1 CZ se lang neus. Hittegolwe dans oor die aanloopbaan op Ondangwa. Hy sit al vir die beste deel van twee ure in die kajuit, vasgegespe aan twaalf ton staal, brandstof, ammunisie en ander goed. Hy waardeer die koel luggie wat deur die oop kajuit trek. Maar dis waar sy dankbaarheid stop.

Hy probeer sy boude lig en sak om die bloedsomloop te bevorder. Nog ‘n kwartier dan is hulle skof verby en word hy afgelos. Lommies-hulle sal die laaste skof sit tot net voor donker en dan begin alles weer more van voor af. Vir die honderdste keer inspekteer hy die perspeksruite op soek na enige kolletjie of merk wat hom tydens ‘n luggeveg kan hinder. In die hitte van die stryd kan ‘n vlieg soos ‘n vyandelike vliegtuig lyk.

Hy dink aan die vyf en twintig minute wat hy kort om die eerste vlieënier in die Lugmag te word met ‘n duisend uur agter die beheerstok van ‘n Mirage F1. In vlug, dink hy, en  wonder of hy nie dalk ook naby aan die rekord is vir die ou wat die langste in ‘n beweginglose vegvliegtuig gesit en wag het om op te styg nie.

Hy dwing homself om vir die soveelste keer die kaart op die konsole voor hom na te gaan.

Die vier Mirages staan langs mekaar binne in ‘n bunker met sandsakke vir mure en ‘n  swart staalet vir ‘n dak. Twee AZ’s wat hoofsaaklik bomwerpers is en twee CZ’s wat as  bomwerper en onderskepper gebruik kan word. Die nette is vir beskerming teen mortiere en die sandsakke teen grondaanvalle. Die nette keer ook die ergste son weg.  Die vier vliegtuie is opgebom en die veiligheidspenne getrek. Alle stelsels is vanoggend reeds getoets.

Vyf minute. Hy maak die boek toe en druk dit in die kantsak van sy vliegpak toe die radio in sy helm kraak. Terwyl hy luister versnel sy asemhaling. Met sy linkerhand trek  hy die kajuitdeksel bokant sy kop toe, terwyl hy met die ander hand die vluginstruksies op die memoblad op sy regterknie aanbring. Om hom gebeur dieselfde by die ander Mirages.

Hy gee ‘n paar kort bevele en druk die rooi vierkantige knoppie links van sy knie waarop staan ‘Inject’.

Dan die groen een. ‘Ignite’

Twee minute later skeer die vliegtuie teen drie honderd kilometer per uur oor die kokende aanloopbaan. In die twee truspieëls links en regs bokant sy kop sien hy sy drie makkers kort op sy hakke. Weens die intense hitte, die swaar bewapening en die ekstra brandstoftenks neem dit ‘n ewigheid om in die lug te kom. Skaars is hy van die grond af of hy druk die beheerstok na links.

Noord.

Hoogte honderd voet.

Klein verstellings aan die roer en beheerstok vind onbewustelik plaas terwyl die aarde onder hom verby flits. Hy weet die vyand se radar gaan hulle optel sodra hulle hoër as boomtophoogte vlieg, en hy wil dit so lank as moontlik uitstel.

Die vier Mirages klief nou teen vyf honderd kilometer per uur deur die lug. Geen radioverbindings totdat hy self die stilte verbreek, was sy opdrag. En dit sal in die laaste minute voor die aanval eers gebeur.

Onder hulle sit ‘n Ovamboman langs sy hut in die middagson en teug aan ‘n kalbas vol mahangubier toe die vier skaduwees soos reuse arende geruisloos oor die wit sand voor hom verby flits. Hy kyk verskrik op toe die aardskuddende gebrul etlike sekondes later  volg en stort bier op sy broek. Rondom hom laat spaander sy bokke in alle windrigtings.

Die opwinding van laag en vinnig vlieg neig om die dodelike missie tydelik op die agtergrond te skuif. Brandstof is krities. Hy durf nie vinniger nie. Die doelwit is ver. Op pad terug mag hulle dalk deur vyandelike vliegtuie onderskep word en dan moet daar genoeg brandstof oor wees om hulleself te verdedig.

Die terrein is plat en vaal. Oshakati flits onder hom verby. Oomblikke later Umbalantu.   Ruacana. Hy sien die kaplyn. Dan is hulle oor die grens. Angola. Hy verbeel hom die vliegpak druk stywer om sy lyf die oomblik toe hulle vyandelike lugruim betree. Nog twaalf minute dan is hulle oor die teikengebied.  Dirk vermy enige gedagtes aan die gesofistikeerde Russiese lugafweerwapens waaroor die vyand in die bosse onder hulle beskik. Aan die skrikwekkende realiteit dat die Angolese lugruim deur die vyand beheer word, wil hy glad nie dink nie.

In en uit. Dis al kans wat hulle het.

Met sy linkerhand druk hy die gasarm vorentoe. Sy oë vasgenael op die spoedmeter. Vier honderd en twintig knope. Hy druk die beheerstok effens regs. Hulle vlieg nou direk noord. Hy gaan weer deur sy roetine: Waarneming buite. Instrumente binne.

‘n Eenvoudige roetine. Totdat jy ‘n fout maak

Die teikengebied is diep binne Angola. Die risiko om die bestoking effektief te doen en terselfdertyd buite bereik van die vyand se lugafweermissiele te bly, verg sy volle konsentrasie. Hoogte, spoed en maneuvrering. Nie maklik met ‘n vliegtuig vol bomme plus ekstra brandstof nie.

Minute van die aanvangspunt af. Hy maak reg om spoed te vermeerder na ses honderd knope. Terselfdertyd maak  hy ‘n koersaanpassing tot by die optrekpunt kort voor die doelwit. Dis waar hulle die veiligheid van laag vlieg agterlaat en deur die beskermingskoepel bars tot op ‘n hoogte wat sal verseker dat hulle teen ‘n dertig grade hoek op die teiken kan afduik. En dat hulle op die vyand se radar verskyn.

Hy weet as daar Migs in die omgewing is, sal hulle dadelik scramble. Hy dwing die gedagtes uit sy kop. Een ding op ‘n slag.

Die bestoking word met vuurpyle en masjiengewere gedoen. Vlugtig inspekteer hy die   twee Matra geleide projektiele op die punte van die vlerke. Dis bedoel vir later. Op pad terug. Indien die Migs hulle lastig val. As daar genoeg brandstof  oor is. Onder die vlerke hang die vuurpyle. Vier lanseerders. Elk met agttien vuurpyle.

Vyf minute van die teiken af verbreek hy radiostilte.

“Vrystaat,” sê hy kalm en druk die wapenstelsel se hoofskakelaar regs van sy knie. Dis die kodewoord dat hulle moet bewapen. Hy selekteer al die vuurpyle tegelykertyd.

Een kans. In en uit.

Hy gaan die elektroniese oorlogvoeringtoerusting na. Moet weet as iets op my gat is, dink hy.

Nog vier minute. Ontspan. Beheer die vloei van adrenalien. Jy het dit nie nou al nodig nie. Sy liggaam ignoreer die paaiwoorde en berei hom voor op die gevaar.

Reuse wit wolke hang soos dreigende monsters oor die Angolese vlakte. Terselfdertyd  vriend en vyand. Tydens die optrek kan dit help om hulle verberg, maar wanneer hulle inkom vir die bestoking kan dit sig op die teiken belemmer.

Twee minute. Hy roep die kompaniebevelvoerder op die lug en versoek dat geel rook gegooi word. Hy moet weet waar hulle ontplooi is sodat hulle nie per ongeluk bestook word nie.

Onder hom flits ‘n rivier en etlike krale verby. Die omgewing is nie vreemd vir Dirk nie, maar teen die spoed wat hulle nou vlieg kan hy maklik ‘n baken mis.

Met die son van agter en wolkstallasies die lugruim vol, is hulle in die ideale aanvalsposisie. Enige oomblik nou behoort hy ‘n reuse sjona aan sy linkerkant te sien. Dis sy laaste baken. Die optrekpunt. Sy oë priem oor die terrein onder hom.

Hy herhaal die versoek aan die grondmagte om geel rook te gooi. Waarvoor wag  die kompaniebevelvoerder?

Dan is hulle by die optrekpunt. Geen omdraai nie. Geen tweede gedagtes nie. Binne sekondes gaan dooie en verminkte liggame die wit pad onder hom ontsier. Liggame wie se gedagtes op hierdie oomblik ligjare verwyder is van die dood wat so naby is.

Twee geel spikkels in die verte! Rook!

Hy trek die beheerstok terug en voel hoe ‘n onsigbare hand hom met geweld teen die sitplek vasdruk. Binne oomblikke vervierdubbel sy liggaamsmassa. Bloed dreineer uit sy kop. Traag om by te  bly met die skielike rigtingverandering teen gravitasie pers sy ingewande teen sy ruggraat. Op agt duisend voet, rol hy die vliegtuig kloksgewys deur honderd en vyftig grade om die neus in die rigting van die teiken te kry. Sekondes later sien hy die wit stofstreep en die pad reg voor hom. Hy rol uit en peil op die konvooi af. Die lugdrukpak klem om sy midrif en bobene .

Dirk besef daar het pas vier groen spikkels op ‘n Russiese radaropsporingstelsel honderde kilometer noord van hulle verskyn. Die wete stuur nog ‘n inspuiting bruisende adrenalien deur sy liggaam.

Op hierdie oomblik vergroot sy are, sy bloeddruk versnel na dubbel die normale tempo. Sy spysverteringstelsel kom tot stilstand.

Jy het net een kans! As jy die teiken mis, is dit verby. Die feit sit soos ‘n gewas in sy agterkop. Hulle kan dit nie waag om weer te probeer as die eerste bestoking nie gewerk het nie. Die vyand sal hulle volgende keer inwag.

Hy besef hy het opgehou om asem te haal.

******************

Lank voordat Steve van die vliegtuie se teenwoordigheid bewus is, kom die versoek van die vlugbevelvoerder oor sy radio om gereed te maak om die voorste lyn van eie magte met geel rook aan te dui. Vier minute.

Hy kom orent in ‘n poging om die paniek, wat hom aan die keel wil gryp, af te skud. Ek het die bestoking gereël, dink hy. Ek het die vlieëniers en Charles se lewens in gevaar gestel. Ek sal die ding moet maak werk.

Ek durf nie die rook hier voor die Casspirs gooi nie.  Dit sal vir Charles en sy span binne die doodsakker plaas.

“Frans!” Skree hy. “Hou daai BRDM dop. As iemand daar roer, skiet jy. Ek gaan ondertoe en probeer om die rook op die pad te gooi. Sê vir Charles ek is op pad. Hulle  moet nie skiet nie. Ons gaan oos van sy posisie wees.”

“Nel, bring jou geweer!” Hy gryp die twee rookgranate, spring by die agterdeure uit en verdwyn oor die koppie se rand. Frans protesteer toe hy sien wat gebeur, maar sy woorde val kort. Die majoor is reeds weg.

Steve strompel teen die heuwel af. Sy oë vasgenael op die plek waar hy die BRDM laas sien staan het.

Hy mik om regs agter die BRDM verby te kom. Die bemanning se aandag sal voor die voertuig wees. Agter hom klink dit soos ‘n rotsstorting soos Nel teen die koppie af strompel. Hy draai om en beduie vir Nel om te kalmeer.

‘n Paar tree verder gaan staan Steve. Hy wys vir Nel om dieselfde te doen. Iewers links van hulle moet die BRDM wees. Hy sak af en beduie dat hulle in stilte hande viervoet verder moet beweeg.

Vordering is stadiger, maar dit verminder die kanse om gesien te word.  Steve is onbewus van die stampe en krapmerke aan sy hande, knieë en elmboë.

‘n Honderd treë verder jaag sy asem so dat hy niks om hom kan hoor nie. Hy kyk op sy horlosie. Enige oomblik nou verwag hy ‘n radioberig van die vlugbevelvoerder af. Hy kom stadig orent. Waar de hel?……. dan sien hy die helder wit gruispad ‘n paar tree vorentoe dwars voor hom lê.

Hy draai om. Nel het weer agter geraak.

Charles se span behoort iewers links van hulle te wees, maar daar is nie tyd om vas te stel presies waar nie. Hy gaan sit op sy hurke en wag totdat Nel opgevang het. Sy asem brand in sy keel wanneer hy die handstuk teen sy oor vasdruk.

Enkele minute sit hulle en wag. Nel se oë intens op die bosse om hulle. Wapen in die skouer.

Steve tik hom op die rug en beduie na die geweer. “Sit op jou magasyn,  asshole.”

Dan kraak sy radio. “Een zero, ek soek VLET nou, oor.” Kom die vlieënier se stem oor die stel. Steve moet die voorste lyn van eie troepe aandui. En dit gaan ‘n leuen wees, dink hy.

Hy staan regop met een rookgranaat in sy regterhand en nog een aan sy belt gehaak. Hy verwyder die veiligheidspen met sy linkervoorvinger en gooi eers die een en dan die ander granaat met ‘n boog bo-oor die struike reg voor hulle. Die eerste een hop ‘n paar keer op die harde wit oppervlakte, en bly in die pad lê. Nommer twee land in die kort gras anderkant die pad.

Pluime helder geel rook borrel die lug in.

Binne oomblikke gaan alle hel losbreek. Die gedagte gee hom krag om terug te hardloop   met Nel kort op sy hakke. Hy hou by die roete soos hulle afgekom het, maar die hele tyd verwag hy vuur van regs.

Nel blyk bewus te wees van die gevare, want elke nou en dan mik hy om sy majoor verby te steek. Klippe rol los, takke breek, asems hyg, maar geen skote klap nie. Al wat hulle hoor is die  naderende donderstorm oor die veld.

Halfpad terug teen die koppie, kyk hy om. Die voorste voertuie in die konvooi is nou ‘n honderd meter van die geel rookwolk af. Die konvooi het nog nie gestop nie, so hulle het nog niks gesien nie, dink hy. Of hulle het dit gesien en verkeerd vertolk. Dalk gedink dis hulle eie mense.

Hulle klouterdraf oor die rand totdat hy met verligting die digte takbedekkings sien wat verspreid uit mekaar op die plato staan. Hy draf agter Frans se Ratel verby. Frans beduie met sy regterduim in die lug dat hulle goeie werk gedoen het.

Net voordat hy in sy Ratel spring, hoor hy Frans se stem. “Daar kom hulle nou!”

Hy kyk hy op. Vier swart spikkels duik soos visarende  in doodse stilte tussen die wolke deur op die niksvermoedende konvooi af.

Hy steek vas. Dis asof die absurde toneel hom betower. Vir ‘n oomblik staan hy eenkant in verwondering van sy eie betrokkenheid by iets so surreal soos wat hier voor sy oë afspeel. ‘n Aksiebelaaide fliek sonder ‘n klankbaan. Sy fliek.

Dit lyk asof die voorste vliegtuig se vlerke aan die brand slaan wanneer al vier lanseerders tegelykertyd hulle kokers ledig.

‘n Reeks ontploffings volg. ‘n Donderende skeurgeluid agtervolg die vliegtuie deur die helder blou lug. Dan ontplof die vuurpyle  met ‘n kraakbarsgeluid tussen die konvooi voertuie. Sekondes later hoor hy die stomp ontploffings van die Mirages se dertig millimeter masjiengewere.

*******************

Dirk sug verlig toe hy die sjona gewaar. Die wit pad met die aankomende konvooi se stof streep snel uit die verte nader. Sy oog vang die borrelende geel rook tussen die vaalgroen reg voor hom.

Hy druk die Mirage se neus af in die rigting van die spikkels voertuie wat hy plek-plek tussen die wolke deur op die pad kan sien. Agter hom volg die ander drie vliegtuie in presiese nabootsing van elke maneuver.

“Ok, daar gaan ons,” sê hy. Radiostilte nou oorbodig.

Die daling vanaf agtduisend voet neem sekondes. Ter wille van die kompanie op die grond se veiligheid, vermy hy die voorste punt van die konvooi. Sy oë gespits op die  vierkantige perspeksvisier reg voor hom. Met sy regterduim verwyder hy die beskermingsplaat van die sneller op die beheerstok. Hy voel die rooi knoppie deur die seemsleerhandskoen.

Toe die derde tenk in die driehoekige visier verskyn, druk hy die sneller.

Twee en sewentig vuurpyle skiet millisekondes na mekaar onder die vlerke uit. Dit kies koers verby die kajuit reguit grond toe en wanneer dit tref,  verander die tenk in ‘n pikswart wolk. Hy druk die masjiengweerskakelaar op die paneel regs van sy knie en met sy hand terug op die beheerstok druk hy weer die sneller.

Hy is nou binne bereik van die vyand se lugafweermissiele. Die aarde kom teen ‘n duiselingwekkende spoed nader. Hy het ‘n sekonde oor om nog skade aan te rig. Net genoeg tyd vir die twee dertig millimeter masjiengewere onder sy sitplek om sestig rondtes af te vuur voordat hy optrek.

Koop die eBoek hier!

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment