DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Helene De Kock – Kyk na haar eBoeke!

Helene se eBoeke is nou beskikbaar!

Koop die eBoeke hier!

Koop die eBoeke hier!

 

“Ek  skryf omdat mense my interesseer. Veral verhoudingsverhale  roer my hart. Alhoewel die liefde ‘n belangrike onderwerp in my verhale is, staan dit nooit apart van ander verhoudings nie. Die liefde self is verweef in die web van die lewe, glo ek. Ander verhoudings word daardeur geraak – soos die verhouding tussen ouer en kind, die verhoudings tussen broers en susters en ons almal se verhouding met God en die groter wêreld om ons.” –  Helene de Kock

Uit dié skrywer se pen het al digby die veertig boeke verskyn waarin sy dit inderdaad regkry om lesers se harte op ’n besondere manier aan te raak. Die pragtige verhale waarvan sommige iewers op ’n wynplaas in die Kaap afspeel of ander met die Oos-Vrystaat en Riemland as milieu, is almal stories wat ’n mens aangryp vanweë haar fyn uitbeelding van die verskillende karakters. Die skeppinge uit haar pen getuig beslis van haar fyn insig en mensekennis. – Alita Vorster (Joernalis)

via Helene De Kock – My Webwerf.

 

Lees ‘n kortverhaal van Helene de Kock

Halfpad Kaap toe staan ‘n huis

June kyk na die pakkie op haar lessenaar en na die geil bos rose. Van die personeel, natuurlik. Hulle weet dié direkteur gaan more met verlof. Sy kyk deur die glasafskorting oor die oopplan kantoor na die klomp gesigte waarvan die meeste na haar toe gedraai is.

“Báie dankie!” glimlag sy.

Die kaartjie op die pakkie lees: KYK NA JOU E-POS. Sy sug, min lus vir speletjies. Sy gooi ‘n vinnige blik oor die kantoor, maar almal is druk besig voor hul rekenaarskerms.

Daar is inderdaad e-pos van ene X, en in die onderwerpveld: Lees, asseblief.

Hallo June,

Halfpad Kaap toe staan ‘n huis. In die huis is ‘n kamer en in die kamer is ‘n kas. En natuurlik, in die kas is ‘n laai.

Die pakkie: vra iemand om die roete in te tik. Ek verwag jou more so teen skemer.

Ry mooi – en maak die tenk op Bloemfontein vol.

En o, kóm tog…

Dan is daar aanwysings in koórdinate van lengte en breedtegrade. Sy sit ‘n ruk ietwat verdwaas, maak toe die pakkie oop. Verstomming pak haar. Maar sy weet darem wat dit is.

Sy gaan staan in die deur, vra kliphard: “Wáár kom die GPS vandaan?”

Almal kyk op met hul gewone korporatiewe onbetrokkenheid. Niemand antwoord nie. Maar later kom sy veel meer te wete van ‘n GPS. Een van die senior bestuurders kom maak haar inderdaad touwys. Tik die roete- aanwysings in. Dit lei die wye Karoo binne na ‘n gastehuis, Rustevrede naby Beaufort-Wes, seg die kollega.

Google verskaf ‘n skilderagtige foto van ‘n spitsgewelhuis teen ‘n vaalbruin Karookoppie. Half versteek agter diepgroen sipresse. Agt en suite kamers. Mens kan perdry en swem en daar is wandelpaaie tussen die koppe deur. Rus en tevredenheid word gewaarborg.

Tuis besin sy nugter daaroor. Iemand wat haar ken, het haar ‘n peperduur GPS geskenk. Hy vermoed blykbaar dat sy nie eintlik vakansieplanne het nie.

Maar sy het dié vakansie nodig. Rustevrede. Klink gerusstellend. Buitendien, sy is nie ‘n bang vrou nie en sy móét die ding gaan teruggee. Duur geskenke plaas mens onder ‘n verpligting. Wie die man is, weet sy nie. Sy het geen onlangse verbintenisse nie. En op drie en dertig het sy lankal van haar oues vergeet. Sy is gewoond aan haar

suksesvolle alleenpad. Maar herinnering haal haar vroegoggend op die lang teerpad in.

Daar was Dirk Viljoen. Hulle was saam op Stellenbosch. Hy kón soen. Ook diep gesels en meelewend luister. Maar sy ma, by wie hy ingewoon het, was te veel in die prentjie. Dis hoe June op negentien gevoel het.

“Word groot,” het Dirk gemaan. “’n Man hét ‘n ma.”

“Wat haar plek moet ken.”

“En waar sou dit wees?” Hy was sowaar geamuseerd.

Sy het nie die antwoord geken nie. Wou ook nie werklik konflik uitlok nie. Mevrou Viljoen sou wel verdwyn, het sy haarself getroos. Ma’s maak so. Figureer eers groot en dan al kleiner. So het sy haar eie ma beleef nadat sy met haar stiefpa getrou en ver gaan woon het. Sy was kwaad en hartseer. En het dit op Dirk se ma geprojekteer. Dirk se woorde. Sy’t haar dié skemeraand liederlik vererg daar onder die nat eike voor haar kommune.

“Van wanneer af analiseer jy my só…?”

“Ek analiseer nie. Ek wonder. Jy’t hierdie beeld na buite wat my soms laat skrik.”

Sy het in sy neutbruin oë onder die klam swart kuif gekyk. “Watter beeld…?”

“Een wat perfek in die korporatiewe wêreld sal inpas. Koel en onbetrokke. Ysig mooi met jou blondheid en blou oë.”

Die ‘mooi’ het haar geval; die ‘ysig’ nié. “Ek sal nie toelaat dat jy my tipeer nie!” het sy gegrief losgetrek.

“As jy ernstig is oor ons twee, sal jy nie so kleinserig wees nie. Ek is bang jy word een van daai konsultante wat wêrelde versit, maar niks binne die omtrek van hul eie menswees vermag nie.”

“Omdat ek in die regte studeer?” Sy was onredelik.

“Nee, omdat jy geneig is om jou te onttrek as die wêreld warm word. En dan kyk jy ewe kil toe hoedat ander uit hul pad gaan om jou te plesier.”

“Wie doen dit nogal?”

“Ek… en my ma.”

Sy kon dit nie ontken nie. Mevrou Viljoen was omtrent ‘n engel. Sy’t koek gebak as June naweke kom kuier, vir haar lekkerruiksepies by elke moontlike okkasie gegee en haar nooit gekritiseer nie. Miskien het juis dit June laat skrik. Sê nou die vrou okkupeer te veel van haar beplande toekoms saam met Dirk? Want elke aand as sy en Dirk daar koffie gedrink het, het Anna Viljoen vriendelik kom nag sê. Dit het June in daardie storm-en-drang-tyd laat voel dat dit nou haar cue was om te waai.

“Dirk,” het sy die gesprek daardie reënerige aand beëindig, “dinge raak nou te kompleks. Laat ons mekaar ‘n rukkie lank kans gee.”

“Hoe lank is ‘n rukkie?”

“Tot ons weet.”

Hy het haar net daar in die stuiwende winterreën gelos en nooit weer gekom nie. Getrou aan haar koppige aard, wou sy nie die eerste skuif maak nie.

Sy’t nog lank oor Dirk se soene gedroom. Sy skaterlag hoor opklink. Hom later snoesig met ‘n joolprinses onder teergroen eike sien drentel. Sy het Anna Viljoen een middag in D’Ouwe Werf se rustige restaurant raakgeloop – en ampertjies op haar skouer gehuil. Die vrou was opreg belangstellend en daar was vrae in haar sagte oë. Maar Dirk het klaargemaak met sy MBA en in Johannesburg gaan werk.

Gerhard Smit was ‘n prokureur. Seker van homself en vreeslik beskermend teenoor haar. Wou nie hê dat sy saans tussen Johannesburg en Pretoria alleen moes ry nie.

“Jy oordryf,” het sy eenkeer gelag. “Ek kan alleen ry.”

“In dié land?”

“Wat’s fout met die land?”

“Res ipsa loquitur.” Die feite spreek vanself.

Dit was sy voos gebruikte sêding. Maar sy het gehou van die man met die effense silwer aan die slape. Ons Smitte is van kleins af alte grys, het hy beduie. Die verhouding het heel prettig voortgedobber totdat hy een aand in ‘n restaurant ‘n verloofring in haar glas wyn versteek het. Die ring was asemrowend maar sy het dit amper ingesluk.

“Dis te gou!” Sy’t die spoegnat ring in die kleinbordjie neergesit.

“Dis al sés máánde!” Hy was gekrenk. “Ons is amper dertig!”

“Wat daarvan?”

“Gee my nog tyd,” het sy gepleit.

“Nee, die tyd is nóú.”

Maar sy het vasgeskop. Hy het haar huis toe gevat met die ring in sy sak en ‘n kopknik as groet. “Gaan jy my nie soen nie?” het sy gewaag.

Hy het sy kop geskud. “Res ipsa loquitur.”

Hy het weggery en weggebly.

Sy het weke lank op hom gewag. Hom gemis. Toe besluit dat mans taboe is. Sy’s nie gemaak vir romanse nie. Koel en onbetrokke. Dirk was reg.

Teen twaalf uur maak sy die tenk op Bloemfontein vol en volg die blikstem se instruksies. Sy ry en ry tot anderkant Beaufort-Wes. Weerskant strek die eindelose Karoo tot doer waar dit nie meer saak maak nie.

“Jy het gearriveer,” sê die blikstem toe sy kort na skemer die laaste uitdraaipad na links neem en sy die naambord en die witgekalkte hekke sien.

Haar bene is wankelrig toe sy uitklim en binnegaan.

Die portaal ruik na rose en die gawe vrou agter die toonbank begelei haar na kamer nommer 12 heel onder in die gang. Dis ruim en koel in skakerings van wit en room. Sy loop werktuiglik na die jonkmanskas in die hoek. Haal ‘n wit vel papier uit die boonste laai.

Kom eetkamer toe. Wees rustig. Niks in hierdie huis geskied haastig nie. Miskien moet mens die lewe ook so benader. O, ek hóóp jy is hier…

Dis meteens of sy intuïtief aanvoel wie die skrywer is. En sy dink met klein weemoed daaraan dat hul afskeid ‘n bitter smaak had. As sy dit tóé maar wou erken.

Sy trek keurig in koningsblou aan en loop eetkamer toe. Die plek glim vol lamplig. Daar is niemand anders nie. Net hy, wat stadig tot by haar kom.

Sy steek haar hande eerste uit. “Dirk…”

“My liefste…”

“Hoe’t jy geweet om…”

“Res ipsa loquitur,” sê hy sag.

“Die feite… Waar het…?”

“Ek het Gerhard ontmoet toe ek dié plek gekoop het. Op ‘n dag het jy ter sprake gekom, en dis toe dat ek besef het die feite spreek vanself. Jy wou hóm nie gehad het nie… Maar nou, June?” Hy sit sy hand onder haar ken.

Sy voel trane opstoot. “Ek het gearriveer, Dirk.”

Hy skaterlag. “Ek het een van jou senior bestuurders omgekoop… enne… die GPS was my ma se idee.”

“Waar is sy?” vra sy gretig.

“Hier. Sy bestuur die plek vir my. Maar sy’t gesê vanaand is ons s’n.”

Hy trek haar nader en soen haar met smagting. Waar wás ek tog al die jare? wonder sy, en vou haar arms styf om hom.

“More wil ek jou ma leer ken,” sê sy in sy nek.

 

 

 

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment