DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Boekresensie: Saliger deur Dibi Breytenbach

Via litnet deur Org Potgieter

http://myafrikaans.com/saliger.html

Kyk na saliger hier.

Saliger is ‘n goeie debuutspanningsroman deur Dibi Breytenbach.

Amalia Abrieu is die aanklaer op ‘n klein dorpie waar verkragting en bloedskande ‘n algemene verskynsel is. By haar as aanklaer (wat die skrywer ook in die ware lewe is) heers daar ‘n magteloosheid oor die lot van die slagoffers en die feit dat die skuldiges sulke ligte strawwe kry en later net weer dieselfde misdaad te pleeg.

Dit was al die hooftema in ander speur- en spanningstories, met selfgelding en vigilante aksies deur die gemeenskap uit protes teen die onvanpaste strawwe wat ons howe oplê (dikwels weens swak speurwerk, soms deur patetiese uitsprake of korrupsie).

Die eerste 60 bladsye of wat handel hoofsaaklik oor hofprosedures en gebeure rondom hulle waarin die skuim van die aarde vrygespreek word op aanklagte van bloedskande en die vernietiging van jong lewens. Dit is ‘n noodsaaklike basis vir die storie, maar dit duur te lank voordat ware spanning geskep word wat die leser prikkel om verder te lees. ‘n Besoek aan die klaagsters se gemeenskap, huislike omstandighede, ellende kon Amalia se patos en magteloosheid ook beter in die kollig gestel het.

Dit laat ‘n mens wonder of die skryfster nie liefs – buite die kronologiese konteks – met ‘n sensasionele en prikkelende toneel moes begin het nie. Daar is ‘n hele paar moontlikhede: die afbrand van die pastorie, die verkragtingsgebeure, die moord op beskuldigdes wat straffeloos vrygelaat is – gegewens wat die leser dadelik met spanning kan vervul en laat voortlees om agter die kap van die byl te kom.

Dit is iets wat iemand soos die Noorse skrywer Jo Nesbo gereeld op ‘n meesterlike wyse vermag. In een van sy boeke span hy viér opeenvolgende gebeure onkronologies in (hy maak tussenin selfs ‘n kort draai in die Tweede Wêreldoorlog!) om spanning en verwagting op ‘n briljante manier te skep. Onmiddellike spanning en die skep van naelbyters bly seker van die grootste uitdagings vir die skrywer van ‘n spanningsroman, maar dit bly die beste resep. Daar is talle ander skrywers wat daarin slaag, maar die aangehaalde voorbeeld is een van die bestes waarvan ek kennis dra.

Maar – en dis ‘n baie goeie maar – wanneer Saliger eers rigting kry, toon dit baie belofte vir ‘n nuwelingskrywer en laat dit ‘n mens uitsien na meer. Daar is ook ander kleindorpse karakters, soos die brandweerman Fokken Fanie (van wie se kleindorpse bestaan ‘n mens as afwisseling dalk meer sou wou geweet het) en die twee dorpsidiote. Hulle word effens onrealisties voorgestel, maar speel tog ‘n belangrike rol in die verhaal.

Die hoofkarakter – die enigmatiese, stugge en onversorgde Hendrik – is ‘n man met ‘n verlede waaroor hy verkies om te swyg, maar dit skyn deur dat daar geweld by betrokke was. Die handelinge en puik dialoog plaas die verhouding tussen hom en Amalia geleidelik op ‘n hoër vlak en die liefdestoneel tussen Hendrik en die onervare Amalia word besonder smaakvol en vernuwend oorgedra.

Tussendeur groei Amalia se agterdog oor Hendrik – wat intussen ‘n vreemde gedaanteverwisseling ondergaan – wanneer die lui kaptein Germishuis geloofwaardige vertwyfeling oor Hendrik se verlede, motiewe en bewegings begin saai. Sal sy dalk nog haar nuwe liefde in die hof moet aankla? Die dialoog tussen Amalia en die kaptein dra ook meer by tot die skets van hul verhouding as wat met blote handeling vermag sou gewees het, en die karakter word goed geskep.

En waar gaan Amalia se geliefde dominee Morgenster by die storie inpas? Sy pastorie brand af en sy swanger vrou en drie kinders ontkom net-net … Die skryfster laat ook ware spanning tot sy reg kom in die slottoneel met ‘n beskrywing wat van goeie vakmanskap getuig.

Ten slotte: Dibi Breytenbach verdien applous vir haar eerste poging met ‘n boek wat lekker lees en teen die einde moeilik neergesit word. Die Afrikaanse spanningsmark groei daagliks en dis ‘n uitdagende terrein.

Naskrif: Daar is twee ander hinderlikhede in die boek: die redigeerder en proefleser wat ‘n onvervreemde taalreël ignoreer deur deurgaans kommas voor “maar” weg te laat, en die skryfster se gebruik van ‘n hele klompie onoortuigende metafore aan die begin.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment