DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Verhale oor die Boereoorlog

Afrikaanse eBoek

Afrikaanse eBoek


Kliek hier om die Afrikaanse eBoek Boereoorlogstories teen ‘n baie aantreklike prys te koop.

Die vrou op die strand
IRMA JOUBERT
Uit: Boereoorlogstories, saamgestel deur Jeanette Ferreira

Sy staan lank na die see en kyk. Dit is die eerste keer dat sy dit sien.
Die see lê diepblou tot anderkant die kim, die son kaats byna verblindend op die waters. Die branders rol rustig voort strand toe, spoel ver oor die wit sand uit en suig elke keer weer terug see toe. Die see is spieëlglad. Verraderlik glad.
Toe draai sy haar rug op die see. Sy het klaar na die see gekyk.
Daar was net een kind vir haar en Petrus.
Sy stap met swaar tred terug na die wa.
Sy is ’n groot vrou. Sy was altyd groot; nie mooi nie, eenvoudige gesig, yl hare. Daar was geen jongetjies wat kom opsit het nie.
Later, baie later, kom Petrus. Groot, mooi Petrus, stil Petrus. En hy word lief vir haar.
Haar kind was ’n genadegawe van God. Jare nadat hulle ge-weet het hulle sou nooit kinders hê nie, het God haar dorre lyf oopgemaak, soos ’n Sara van ouds.
Môre gaan sy terug plaas toe.
Hulle wou die kind Isak noem, maar dis toe ’n dogtertjie. Daarom het hulle haar Sara genoem. Sy het hulle hele lewe geword.
Toe die Kakies die plaas afbrand en hulle wegneem na die kamp by Klerksdorp, was sy bly dat die kind al groter is. Die moeders met stringe kleiner kinders het hulle moeg gesukkel, baie keer moed opgegee, oorgegee. Sy en die kind het elke aand deeglik gewas, bedags die pesdraende luise op mekaar gesoek soos die bobbejane op die plaas maak. Alles het sy sorgvuldig gekook, die melk en water, hulle klere, op sonskyndae selfs die komberse. Die kind het wel maer geword, maar nooit siek nie. Haar bruin oë het bly blink.

Eendag het die Kakies Petrus gevang en ver oor die see gestuur.
In die oorvol tent daar in die Klerksdorp-konsentrasiekamp het sy en hulle Sara-kind oorleef.
Toe word hulle aangesê om al hulle goed te pak, hulle word geskuif Durban toe. In weerwil van die Kakies se belofte dat vroue en kinders nie uit hulle oorspronklike omgewing verwyder sou word nie, moet hulle Durban toe skuif.
Sy was bang – sy is van altyd af bang vir die onbekende.
Maar sy wys niks vir die kind nie. “Moeder, dink Moeder ons gaan die see sien?” vra Sara blinkoog.

Hulle moet stasie toe stap. Dit wat hulle wou saamneem, moet hulle dra. Net een trommel mag op die wa gelaai word.
Op die stasie wag oop beestrokke, die stank van beesmis swaar in die lug. Hulle word in die tweede trok gelaai – getrok. Sy pro-beer ’n hoekie skoonmaak, maak haar swaar lyf met moeite op hulle bondels tuis.
Laatmiddag begin dit reën – ’n regte Hoëveldse storm. Daar is geen skuiling nie, net die blitsende hemelruim bokant hulle. Hulle is gou deurnat, hulle bondel komberse en klere deurweek. Sy probeer haar kind met haar liggaam warm kry.
Êrens hoes ’n kind rou, die hele nag lank. Toe die dag rooi teen die swaar wolke begin breek, sterf hy. 
Daar is geen medisyne nie, ook nie water in die trok nie.
“Moeder, ek móét nou kleinhuisie toe gaan,” sê Sara benoud.
Daar is geen private geriewe nie, nie eens privaatheid nie.
Die kind se verleentheid is minder as haar eie vernedering.
Middeloggend ruk-ruk die trein, begin stoom blaas en beur uiteindelik sy swaar vrag stadig vorentoe. ’n Vrou haal ’n Vier-kleur uit en begin dit waai. Hier en daar begin nog vlae waai, ook bokant die ander trokke; vlae van alle groottes wapper in die lentebries. Dan klink dit op, eers yl, teen die einde ’n crescendo: “Dat vrije, vrije volk zijn wij!”
Die vrou sing outomaties saam – volk en vaderland is minder belangrik, sy wil huis toe saam met haar man en haar kind.
Die kind sing uit volle bors saam. Haar helder stemmetjie sing bo die somber stemme van die moedige vroue uit.
Die treinreis duur sewe dae, hulle mag die trein nooit verlaat nie. Die trokke is toegeketting, soldate pas hulle op.
Bedags brand die son ongenadig uit die blou hemel op hulle neer, snags kruip hulle teen mekaar aan vir ’n bietjie beskutting. Lentenagte in die Hoëveld is steeds nog bitter koud.
Hulle kry soms droë hopbrood om te eet, ’n emmer water om uit te skep. Van was is daar geen sprake nie.
“Moeder, dink Moeder ons gaan vandag die see sien?” vra Sara elke dag. Haar oë bly blink.
Sy weet nie hoe ver dit nog is nie, sy is nie ’n geleerde vrou nie.
Die Kakies sê die Merebank-kamp is gebou omdat die kampe in Transvaal te vol is – hulle wil die mense Natal toe skuif om hulle lewe te verbeter.

Die vrouens wéét: Die skuif word gedoen sodat die Boere-vrouens en -kinders as lewende skild vir die Kakiesoldate kan dien. Die oop beestrokke waarmee hulle reis – ’n paar voor, reg agter die stomende lokomotief en ander heel agter, aan die stert van die trein – is daar sodat die Boere nie die treinvrag Kakies, knus ingelas, sal opblaas nie.
Uiteindelik klim hulle van die trein af. Die kind huppel van opwinding. “Waar is die see, Moeder?” 
Die Kakies sê die Merebank-kamp is ’n modelkamp, hulle probeer die foute wat by ander kampe gemaak is, uitskakel. Hulle moes iéts doen – die mense home het begin vra oor die baie sterftes, veral onder kinders . . .
Damn Emily Hobhouse.
Die Boerevrouens adem vreemd die dik, warm lug in, so an-ders as die kraakvars lug van hulle Hoëveld. Dit kan tog nie ge-sond wees nie?
Die kloktente staan in gelid. Sy en die kind kry plek by ’n bywonersvrou en haar ses kinders.
“Waar is die see?” vra die kind.
“Net agter dóérie bult, ons kry soms ’n permit om daarheen te gaan,” antwoord een van die ouer inwoners.
“Kan ons nou ’n permit kry, Moeder?”
“Nie nou al nie, miskien later.” Haar bene sal nooit tot doer kan stap nie.
Die grond is modderig, binne ure is die paadjies tussen die tente ’n slymgladde pappery. Die vroue se lang swart rokke sleep oor die modder, hulle velskoene pak swaar aan.
Toe die son uitkom, bak dit hulle teen die klam aarde vas. Teen tienuur begin die dampe uit die aarde opstyg, die lug word byna te dik om in te asem. 
“Die son skyn,” sê haar Sara-kind. “Kan ons gaan kyk waar die see is?”
“Nee,” antwoord die vrou, “ons moet wasgoed was.”

Petrus sou met die kind saamgegaan het. Hy was lief om haar laatmiddag saam te neem kuil toe, hulle was soos twee visse in die water.
Soms kom ’n briesie van die see se kant af, dit bring verlig-ting. Maar dan word dit ’n wind en die sand kom daarmee saam. Dit piets jou deur die gesig en knars onder jou tande. Die sand kom in alles in: die pappot, die koffiebeker. Dit bedek alles – die beddegoed, die tentvloer, die emmer water.
Die nagte sweet benoud, wolke muskiete styg met sonsak uit die moerasse op en sak op die kamp toe.
Maar meestal reën dit.

Lees verder die uittreksel van die Afrikaande eBoek in Beeld.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment