DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Uittreksel van die Afrikaanse eBoek Lilith X

Afrikaanse eBoek

Afrikaanse eBoek

eKhaya, die digitale druknaam van Random House Struik, het Die 95 stellings van Lilith X bekend gestel. Hierdie Afrikaanse eBoek is deur die bekende Lizette Rabe geskryf.

Volgens die Joodse mitelogie:

Toe God Adam geskape het, was Adam eensaam. God het toe Lilith geskep met die selfde stof as waaruit Adam gemaak is. Maar hulle het gestry, Adam wou baasspeel oor Lilith. Lilith was trots en eiesinnig, en het gelykheid geeis met Adam omdat sy uit die selfde stof gemaak is as Adam.

Lilith het Adam verlaat en het uit Eden gevlug. God het drie engele agter haar aangestuur. Hulle het haar gevang en beveel om terug te gaan na Adam.Lilith het wraak gesweer en verklaar dat sy kinders swak sal maak.

God het toe vir Eva geskep uit Adam se ribbebeen en nie ook uit stof nie.

Lees ‘n uittreksel van die Afrikaanse eBoek hieronder.

Proloog I: Lilith X
Hier staan Lilith, want sy kan nie anders nie.

Lilith is ’n gewone mens. Toevallig ’n vroulike een.

Of waarskynlik. Dalk. Nie toevallig nie. Want dan sou sy nie haar private, persoonlike, pynlike protes begin het as sy nie tot die “mindere”

geslag, die “swakker vat”, die “tweedeklas-burgery” behoort het nie.

Sou sy nie haarself eers weer ver anderkant ’n verdwasende, verbysterende, onthutsende eksistensiële tyd-ruimtelik-spirituele reis gevind het nie.

As sy ’n man was, sou sy immers nie die status quo bevraagteken het nie. Dit is tog ondenkbaar onvanpas om dit wat jou bevoordeel, te bevraagteken.

Maar daarom staan Lilith hier, want sy kan waaragtig nie anders nie.

Tot hier, sogodhelpemy, en niks verder nie.

Genoeg ís inderdaad genoeg.

Genoeg sigbare en onsigbare, subtiele en onsubtiele ontmensliking, soos wat Lilith en haar geslagsgenote dit tot sover beleef het.

Lilith begin haar eie, persoonlike, private protesbeweging.

Sy protesteer. Te hel met die boksies van die samelewing, die vormpies waarin ons gegiet word, die blikke waarin ons gedruk word. Waarin vroue gedruk word. (Ja, waarin ook mans gedruk is. Soos die arme Boetmanne, veral, wat so betáál vir die sondes van die vaadre.) Maar vroue is soveel magteloser. En ons doen so mee, want hoe meer ons ons

“bevry”, hoe meer beperk ons onsself, perk ons onsself in, word ons ingekerker, vasgevang, onderdruk.

Want ja, ons mag maar sedert Die Bevryding buite die huis werk.

Maar sussa, sorg tog dat jy ook jou ou huiswerkies doen. Nie net jou verpligtinge nakom nie. Nee, mens, jy moet die homegoddess wees!

Sorg dus ook dat jy in ’n aantreklike verpakking kom, glad van vel, blink van haar, slank van lyf.

Wees dít. Doen dát. Dink só.

Of liewer: Dink nie.

Dis die paradigmas van ons postmoderne bestaan wat bepaal hoe deur sommige gedóén moet word, en hoe deur sommige gedínk mag 9

word. As jy ’n vrou is, moet jy verkieslik nie dink nie, en veral mooi in jou fiefiefyn spoortjie trap.

Maar so het hierdie Lilith toe wel by haar self begin dink. (Reg, sy kon netsowel by haarself begin drink het.) En tot die gevolgtrekking gekom: Die gedagte van ’n algehele hervorming elke 500 jaar pas haar.

Kyk, ontdek sy, dit ís amper 500 jaar ná daardie vorige oerske protes.

Nie dat hierdie patetiese protestant dink háár protes het hoegenaamd die potensiaal van dáárdie protestant s’n nie. Nie die minste nie. Lilith ken haar limiete. ’n Lilith is vir seker nie ’n Luther nie. En as vrou het Lilith in elk geval nooit juis agtergekom dat sy maar selfs net ’n klein bietjie ambisieuse verwagtinge mag hê nie.

En gelukkig: Dit maak nie saak nie.

Veral nie vir Lilith nie. Haar protes is net maar in haar eie klein wêreldjie. Sy wil maar net haar eie mikro-bestaan hervorm. Sy hoop vir niks meer nie. Sy is immers nie manlik nie, en dus ook nie iemand met die status van ’n manlike teoloog-priester van vyfhonderd jaar gelede nie, selfs in ons veronderstelde postmoderne postfeministiese tyd.

Maar Luthers sal sy ondanks en desnieteenstaande haar staan staan en sê godhelpemy. Want die arme ellendige siel kán net nie meer.

En, gelukkig, sê Lilith, weer, maak dit nie meer saak nie. Sy het niks om te verloor nie.

Al wat Lilith weet, is dat sy nie langer die kak van kondisionering van kerk en kultuur gaan opvreet nie.

Moenie dink Lilith is woedend omdat sy ’n kragwoord gebruik het nie. Sy is net gatvol. Lilith hou daarvan om te dink sy is ’n goedgebalanseerde jogi. Maar selfs as jy jouself genoeg ruimte en suurstof gee tussen die aarde se magneetveld en die son en maan se kragvelde, kan ’n gewone mens maar goed gatvol raak.

En Lilith is maar net ’n gewone vrou. Die soort wat werk, wat huis, wat sorg dat daar brood in die broodblik is, melk in die yskas. Wat man en kind. O, veral een wat man en kind. En o, veral een wat wil vrou en wil ma. Dáárvoor gee Lilith nie om nie, dís nie deel van Lilith se frustrasie met ’n manlik gekonstrueerde wêreld nie. Want Lilith is, o sy is, o sy is so graag ’n ma vir haar liefste kinders en ’n vrou vir haar geliefde. Sy weet immers mans sal nóóit so kan vrou en ma soos vroue 10

kan vrou en kan ma nie.

Maar.

Sy weet ook sy het nie getrou en liefkinders gekry en daarmee ingestem om in ’n boksie gedruk te word nie. Sy het ook nie geweet dit is wat eintlik van haar verwag is toe sy en haar ewe onskuldige geliefde hul kontrak geteken het nie. Ogottatjienee, toe sy ágterkom die samelewing verwag van haar ’n vierkantig, netjies gedoosde vroutjie het sy, eers, ja, haar stem weggeskrik.

Maar toe die stomheid wyk, en sy geleidelik haar stem begin terugkry

…Het sy geweet dat sy haar nie langer deur Die Samelewing sal laat voorskryf van wat en hoe sy kan en mag dóén, en wat en hoe sy kan en mag dínk nie.

Eintlik, eerlik, het sy nie juis tyd om te dink nie.

Is dit dalk hoekom vroue so besig gehou word, sodat ons nie kan dink nie, en nie die status quo kan bevraagteken nie?

Want sy knóóp haar so om te doen wat sy moet doen. By die werk is dit oorpresteer om te wys sy bring haar pond vleis en steek nie lyf weg omdat sy ma is nie. By die huis is dit oorpresteer om te wys sy skeep nie af nie. Kyk, regte ma’s hoort mos nie te werk nie. Lilith is van die generasie waar die skoonma, Moeder Matriarg, nie gewerk het nie. Die dominerende manipulerende mens uit ’n vorige era dink nog steeds so. Alles wat verkeerd loop in ons samelewing is mos “Die Werkende Moeder” se skuld. Iets gelyk aan die antichris/die Roomse/

Swart/Kommunistiese gevaar. Aaklige, o sondige begrip, “werkende moeder”. So teen die aard van vrouwees.

Die arme Lilith het juis so lank aan supervrou-sindroom gely.

Perfekte ma, perfekte vrou. O kyk, ’n lewe in die dag van Supervrou.

Wat beteken sy was ’n paar mense in een. Superma, supervrou, superberoepsvrou. Superhuisvrou, vanselfsprekend. Homegoddess flippen eat your blerrie heart out.

Übervrou. Maar toe het Lilith haarself genoeg bewys.

Die lewe is te kort om ’n aartappel te skil. Om ’n hemp te stryk; let alone ’n hemp te stryk tot in sy be-ef-te perfekte glorie asof dit die hoogste en edelste en enigste roeping vir ’n vrou is. Soos wat Moeder 11

Matriarg se reëls voorgeskryf het. O, sy sou dié mensie na haar hand vorm. Om te voldoen aan háár standaard vir Huis en Haard. Goed genoeg vir haar perfekte seuntjie.

Met dié moeder met wie sy – onskuldig en naïef – ’n leeftyd gelede toe ook getrou het sonder dat sy dit geweet het, het Lilith lánkal vrede gemaak. (Of daar vrede andersom is? Ag, Lilith hoop vir die moeder se eie sielevrede tog so.)

Maar dan die res, o die res. Hoe lief Lilith dit om te kind en te vrou en te werk. Sy kook, en geniet (net nie aartappels skil nie). Haar kinders, haar geliefde. Die al van haar heelal, die al van haar alles.

Die blikke waarin sy die res van die tyd gedruk word …?

Nie.

Maar, gelukkig, en darem, tussen kind en kantoor, kry Lilith haar dink gedink.

Waar sy by die punt gekom het dat sy genoeg het van ’n patriargale, paternalistiese samelewing. Die een waarin vroue gekondisioneer word om versluierd te leef. Sigbaar of onsigbaar, die sluiers is daar. ’n Samelewing wat ook en veral Lilith se eie geslag steeds kondisioneer om te glo vroue wat krities is oor hierdie boksies, is abnormaal. Daar’s iets drasties verkeerd met jou! Dis mos ’n vrou se hoogste roeping om Onderdanige Vroutjie te speel. Rib, magtag, ken jou plek!

Maar Lilith hoop tog die skille val ook van die oë van die medesusters wat nog so bedwelm is; dat die opium geleidelik begin uitwerk.

Want hierdie Lilith, nooit ’n popspeel-dogtertjiekindjie nie, een wat die in die blik druk-boodskap dan seker op ’n wonderbaarlike manier kleintyd gemis het, of miskien juis toe al daarteen gerebelleer het, het kollektief namens haar medevroue genoeg gehad.

Hierdie boksies pas nie meer nie.

In hierdie blik word sy nie langer gedruk nie.

Lilith daag kerk en kultuur uit.

En, nie nodig om te skrik nie. Sy doen dit eintlik maar suutjies, net in haar eie klein hoekie. Sy wil niemand anders se bootjie laat wankel nie. Lilith wil nie tot ander se onbehaaglikheid bydra nie; elkeen moet die eie bootjie laat seil of sink. Elke diertjie sy plesiertjie.

Egter, Lilith het haarself die lisensie gegee dat sy nou doen soos sy 12

wil doen.

Sy het haarself bevry.

Haarself tegelykertyd ook onbekeer.

Haarself heerlik ontkerk, dag en datum toe sy uit die kerk gestap het en vir haarself gesê het: Bybel-Prozac, genoeg, nou werk jy ook nie meer nie, nou sluk ek jou nie meer nie.

Ek ekskommunikeer myself.

En wat ’n verlossing.

Al lag daardie predikant, én van haar eie geslag, wat tog, die hemel behoed ons, nie as “mannehaters” en “feministe” gesien wil word nie –

en dit in die kérk! – haar uit.

Lilith, twyfelend, wat so lank so getrou probeer kerk het, so hard probeer het om in die boksie te pas. Net klein bietjie versigtig elke nou en dan gevra maar hoekom kan die kerk nie maar net klein bietjie meer vrouvriendelik wees nie? Hoekom kan die kerk hom nie dalk maar net so klein bietjie aanpas vir ’n postmoderne interpretasie nie?

Nou. Die predikant kán maar die een wees wat so – al is dit onchristelik – laaste lag.

Dit maak glad nie saak nie; dit was in elk geval die laaste sien van Lilith se blikkantien.

Want Lilith het besluit.

Pleks van wonder en dink hoekom vroue steeds so in hul okken oer gestuur word sonder dat hulle dit weet, want oliewevader, moet tog nét nie ’n feminis wees nie, het die tyd aangebreek dat sy wat Lilith is, háár 95 stellings maak.

En sy gaan hulle nie aan ’n kerkdeur slaan nie, want van daardie hoofsaaklik sondige plek bly sy lankal weg, maar op die skerm van haar rekenaar. Al is dit dan net vir haar eie saligheid.

En so dink Lilith.

En dink.

Dus.

Daarom.

Derhalwe.

Dientengevolge.

Die private sfeer. In gewone taal: die huis. Teenoor die openbare 13

sfeer. Die wêreld buite die huis. Die een waarin mans die kitaar slaan.

Waarin hulle hul ding mag doen. Waarin hulle die mag het.

Dis wat sy eintlik haat, dink Lilith. Dat mans vry is, en vroue nie.

Sterk woord, sê Lilith.

Haat.

Sy’s versigtig vir sulke woorde. Gelaai met soveel emosie. Want emosie is mos nou weer die “domein” van die vrou. En mense misbruik woorde al klaar. Daar’s niks meer respek vir woorde nie. Maar dis ’n ander saak.

En soos wat Lilith elke dag. En elke maand. En elke jaar meer van die lewe geleef het. So het sy elke dag. En elke maand. En elke jaar meer gesien hoe vroue in hul blikke gedruk en hul moere gestuur en daarmee van ’n eie lewe ontneem word.

Meer presies: In die vierkant van ’n huis gedruk word. Die “private sfeer”. Ja, ons mag al “buite” gaan speel, maar ons moet tog ons plek ken en onthou ons moet eintlik ons ding binne die boks doen.

Nie net hóé ons in ons blikke gedruk word nie. Meer presies: onderdruk word. Hoe ons gedefinieer word volgens wat ons “behoort”

te wees.

Soos dat “vroulik” beteken dat jy tog asseblief, suster, nie moet aanspraak maak op regte nie. Ogottatjienee, net nie daardie f-woord-dinges nie. Feminisme! Vloekwoord!

En die manne1 lag al die pad bed toe. Lekker reggekry om vroue2 so te kondisioneer dat hulle afsku het aan daardie woord wat hulle van hul regte ontneem.

Hoe pas dit hulle nie. Nee, vroutjieliefieskat moet tog nie vir haarself dink of doen nie. Hý bly die hoof van die huis en basta. Ons moet veral nie dink die wêreld moet met ’n nuwe mindset bedink en bedoen word nie. “Vroulik” beteken om oulik en lief en goed en gaaf te wees.

1 Nie alle mans nie. Lilith veralgemeen nie. Daar is mans wat reeds verlos is, die bevrydes, wat vir hulself kan dink, en vroue as hul gelykes sien, soos Lilith se geliefde.

Hulle is gelukkig besig om meer te word. Hulle is net nog nie genoeg nie.

2 Nie alle vroue nie. Lilith veralgemeen nie. Daar is vroue wat reeds verlos is, die bevrydes, wat vir hulself kan dink, en weet mans is hul gelykes. Hulle is gelukkig besig om meer te word. Hulle is net nog nie genoeg nie.

14

Sexy. Nié feministies nie. Nié dink nie. Die ultimate huisvrou. O, jy, jou houseproud kombuisgodin. Terwyl jy eintlik kombuisslavin is, in diens van jou heer en meester.

Daarom, miskien, ís haat dalk tog die regte werkwoord?

Want Lilith haat die subtiele en nie so subtiele nie onderdrukking van vroue, met of sonder sluier en burka. Vrouehaat in alle vorms. Vroue wat aan die hand van, letterlik, gewelddadige mans en gewelddadige patriargale samelewings sterf. Femicide, oral om ons. Selfs vroue wat letterlik waaragtig nog gestenig word. En die miljoene vroue wat daagliks met woorde gestenig word.

Fok.

Hierdie.

Onderdrukking.

Fok die paradigma waarvolgens vroue tweedeklasburgers is volgens argaïese Outestamentiese denke. Waarvolgens vroue nog in die 21ste eeu – hierdie eeu! – steeds geïndoktrineer en gekondisioneer word.

Lilith sal nie.

Lilith sál nie. Verder onderdruk word nie.

Lilith het ’n punt bereik waar sy sê, sonder ’n drama of ’n audience of

’n act van enige aard. Net gewoon:

Hier staan ek, want ek kan nie anders nie.

Ek is my eie protestant. Ek protesteer.

Ek is my eie hervormer. Ek hervorm.

Niemand hoef saam met my te protesteer nie.

Niemand hoef saam met my te hervorm nie.

Ek in my klein hoekie, ek protesteer, ek hervorm.

Dis al en dis genoeg.

Want hier staan ek. Ek kan nie anders nie.

Dis wat Lilith vir haarself sê.

Toevallig, of miskien nie, op hierdie Internasionale Vrouedag van 2000-en-hoeveel waarin die vonkposse vlieg van vrou tot vrou tot vrou: Wens mekaar ’n Voorspoedige Vrouedag toe. Wees sterk! Vryf mekaar op! Moer die moerskonts! Bliksem die bliksems! Hel die helle wat vroue so swaar laat kry!

Maar Lilith wil nie kollektiewe vrouewoede so laat klink nie.

15

Al is daar genoeg rede. Vaderweet, vroue is lank genoeg onderdruk, verkrag, vernietig. Verontmens, in elke uithoek van hierdie aarde wat ons ons moeder noem.

Nee, dis net Lilith in haar klein hoekie. Net sy wat haarself wil herdefinieer. Wat vir haarself ’n nuwe (klein) wêreldorde wil skep.

Net sy wat gekom het tot die punt waar sy vir haarself sê: Ek verwerp die bestaande. Ek eis ’n nuwe definisie van menswees.

Ek moet, want ek kan nie anders nie.

Dis Lilith.

Op hierdie dag in hierdie jaar van die Gregoriaanse Christelike kalender. Wat nie eintlik van belang is nie. Want ook hierdie dag en datum is maar net ’n manifestasie van chronologie volgens ’n Westers-bepaalde, manlike samelewingsorde. Dit kan ook wees hierdie dag en datum in die Chinese kalender, of Hindoe-kalender, of die Juliaanse een. Of watter een jou behaag.

Vir Lilith maak dit nie saak nie. Dis hierdie jaar, hierdie dag, hierdie oomblik in die, godedank, darem deesdae nuwe benaming vir tyd en ewigheid: Common Era, CE, ons Gewone Era, GE.

En dis al wat Lilith weet: Tot hier het sy gekom.

Op hierdie dag, hierdie oomblik.

Dis haar 95 stellings.

Hier staan sy. Want sy kan nie anders nie.

Lilith, Internasionale Vrouedag

Kliek hier om Proloog ii van die Afrikaanse eBoek te lees!

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment