DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Uittreksel : Friksie eBoek

Alwyn Liebenberg was ses jaar oud toe hy Jesus iets vra. Regtig vra. Op sy knieë langs sy bed, palms teen mekaar, sy ooglede toe met sy ken wat teen sy duime op die blou duvet druk.

Die babahondjie, ’n Jack Russel, het voor hom op die bruin Glodina-handdoek uitgestrek gelê.

Soos Isak op die altaar.

Voor dié dag was daar dat sy ma sal terugkom van Engeland af. Hiervoor het hy al voorheen gevra. Dit het nie gebeur nie. Maar later van tyd, as hy onthou, so tussendeur hartjie rein maak, kos op die tafel en klere het hy weer gevra.

“En Jesus help ook asseblief al die mense in die wêreld wat nie kos of huise het nie.”

Die hondjie, wat hy die vorige dag by ’n maatjie gekry het, se swart neusie was droog, rubberig onder sy vingers, die skrapse asempie warm.

Gister was hy nog vol lewe, ’n terriër, ’n regte windgat.

“Jis, hy is cheeky!” het Alwyn geskaterlag.

Nou deins Cheeky se borsie met onreëlmatig intervalle onder sy sagte pels op en af.

Katgriep.

Alwyn het eers gedink sy pa terg hom.

Parvovirus het die veearts bekommerd gesê en sy pa se oë uitgesoek, gevolg deur ’n kopskud wat nie vir Alwyn se oë bedoel was nie. Maar die klein seuntjie het die stilte soos braille gelees.

“Ek kan mos vir Jesus vra om Cheeky te red, nè Pappa?” het hy terug in die blou Jetta gevra en sag oor die Jack Russel se lang neusie gestreel. Net die hond se kop het by die handdoek uitgesteek. Alwyn wou hom warm hou, want hy het mos griep, het hy gedink.

Ulrich het benoud keel skoongemaak, wat Alwyn laat opkyk het. “Jy kan vra, Alwyntjie, maar die dokter sê sy kanse om gesond te word is bitter skraal.”

“Skraal?”

“Nie te goed nie.”

“Maar tannie Anja het ons dan vertel Jesus kan mense wat al klaar dood was weer lewendig maak,” het hy met ’n klimmende intonasie geantwoord, terwyl hy die punt van die handdoek weg van Cheeky se toe oë af trek. “’n Mens moet net glo!”

Ulrich het Alwyn se deurdringende blik ignoreer en in stilte gevra dat God hierdie klein hondjie sal spaar. Ter wille van Alwyn. Ter wille van hom. Al is die kanse hoe skraal. ’n Wonderwerk, soos die water in wyn.

Soos van ouds.

Maar dit was nie ’n tyd vir wonderwerke nie. Cheeky se dowwe, droë ogies het twee ure later die laaste keer opgeflikker. Sy ooglede het stadig toegeval, die ribbekassie het ophou hyg en buite het ’n kar in Shillingstraat verbygery.

Dit was laatmiddag in Pretoria. Die mense was op pad huis toe.

Ulrich het sy asem opgehou.

“Hy is dood,” het Alwyn na ’n rukkie met ’n bewende mondjie gesê en sy oë hard droog gevryf. Hy het sy hande in vuisies geklem soos hy gemaak het as hy kwaad is.

“Jesus het Cheeky nie gered nie, Pappa.”

“Nee …”

’n Bekende ou pyn het genadeloos op Ulrich se bors kom trap, die pyn van verlies en teleurstelling. Die eerste tekens daarvan het hulle in Alwyn se oë tuisgemaak, soos die donker skaduwees in ’n vervalle ou huis in ’n verlate myndorp.

Al was dit net ’n klein bietjie, dit was nóg ’n bietjie.

Ulrich het op sy tande gebyt en sy seun se skraal lyfie teen hom vasgedruk. Hy het tevergeefs in die leë leemte na woorde rondgesoek.

“Ek sal nooit, ooit weer vir Jesus iets vra nie,” het Alwyn vasberade gesê, sy lyf so styf soos ’n snaar.

“Alwyntjie … ” is al wat Ulrich sag kon uitkry.

via Uittreksel : Friksie eBoek.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment