DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Resensie Duiwelsklip

http://myafrikaans.com/duiwelsklip.html

#eBoek

Bron

deur Nini Bennett

Duiwelsklip is die debuutroman van Mika le Killian, ’n oudjoernalis wat verkies het om dié boek onder ’n skuilnaam te publiseer.

Die skuilnaam pas dan tematies by die geheimsinnigheid wat die diamantbedryf omring, en dat Duiwelsklip aangebied word as outobiografiese fiksie. Die instruksie aan die uitgewer was duidelik: die outeur wil nie geïdentifiseer word nie; sy is finaal klaar met die fase in haar lewe as ’n diamantdelwer. Die verteller en hoofkarakter, Linda Louw, neem dan die vertellersfunksie oor vanuit die ek-vertellersperspektief, en ’n boeiende verhaal kom aan bod, ’n roman wat netjies in tien hoofstukke verdeel is.

Linda Louw, ’n jong, geskeide vrou verhuis na ’n plaas in die ou Wes-Transvaal, en begin diamante sorteer om vir haar twee seuns te sorg. Haar twee broers, ’n tweeling, staan haar hierin by. Die verhaalgebeure speel af teen die konteks van 1993-1994, wat gekenmerk word deur politieke onrus, vrees, geweld en die eerste plaasaanvalle op boere, wat die gemeenskap skok. Te midde van die onsekerhede bly die diamantdelwers op die dorp onwrikbaar glo in hulle droom om vinnig ryk te kan word uit diamante. Gaandeweg besef Linda egter dat gierigheid die spil word waarrondom alles draai.

Duiwelsklip is nie ’n spanningsverhaal in die ware sin van die woord nie, en die verhaal beweeg stadig. Plek-plek lees die roman soos dagboekaantekeninge waarin inventaris geneem word van die verteller se aanpassing op die dorp, familieverhoudinge, kamees oor die dorpenaars, haar toenemende vrees vir haar veiligheid, en haar groeiende kennis van diamante. Dit is eers in hoofstuk ses, “angola toe”, dat die roman werklik momentum kry, en sy en haar broers ’n kans aangryp om in Angola te gaan diamante delf – ’n ekspedisie wat later liederlik skeefloop.

Le Killian skryf met gesag oor diamante en die leefwêrelde van haar karakters. Teen die slot van die meeste hoofstukke volg ’n “inligtingstuk”, kursief gedruk om dit van die verhaalinhoud te onderskei. Die gebruik van interessante inligting, vervat in postmodernistiese tegnieke, herinner die leser daaraan dat bloedvergieting, korrupsie en oorloë, gefinansier met konflikdiamante, nie fiksie is nie, maar die waarheid. Die kursiewe, informatiewe gedeeltes hef dan die grense tussen werklikheid en fiksie op, en laat die leser met die besef dat die diskoers rondom diamante nog altyd een is/was wat baie mense se lewens verwoes of geëis het in ’n onversadigbare drang na geld en mag. Die informatiewe gedeeltes pas dan ook by die nugtere en gestroopte styl waarmee Le Killian die verhaalgebeure aanbied.

Duiwelsklip bevestig nie geromantiseerde idees oor diamante nie; dit is eerder ’n ontluistering van die diamantbedryf in die geheel, en mens sou kon sê dat die spanning in die roman geskep word deur die outentieke stoffering van die karakters en gebeure; dat die outeur deur ’n amper forensiese bril na die verhaalgebeure kyk en skryf. Die leser besef hier word nie doekies omgedraai oor bloed en gierigheid in dié roman nie.

Die jukstaponering van die slotgedeeltes in die hoofstukke teenoor die eerste paragrawe van die inligtingstukke werk soms verrassend op die leser in:

“Soggens staan ek altyd moeg op en is baie keer befoeterd. Heel eerste bêre ek my R1 in die geweerkluis. Dan maak ek koffie en kry die seuns reg vir skool. Wanneer ek hulle die busstop toe neem, sit ek die .38 Rossi in die buiksakkie wat ek om my middellyf vasgespe.” (48)

“Diamante is die hardste stof in die natuur. Dit is een van die redes waarom dit aanvanklik as waardevol beskou is. Op die Mohs-skaal – wat die hardheid van minerale meet – kry diamante ’n punt van tien (die skaal strek van een tot tien). (49)

Die naasmekaarstelling van dreigende gevaar, reële geweld en die hardheid van diamante skep só friksie, wat weer momentum in verhaalgebeure verseker in die volgende hoofstuk. Reeds op die omslagontwerp word die verband tussen diamante en geweld aangedui as bloed op ’n diamant, wat weer op sy beurt ’n reeks betekenisse rondom die begrip “bloeddiamante” aktiveer.Duiwelsklip het ’n verruimende konteks:

“In die 1990’s is sowat 25% van die wêreld se handel in ongeslypte diamante aan smokkelhandel, korrupsie, geldwassery, of onwettige wapenhandel gekoppel. Hierdie bedrywighede het weer oorloë en diktatorskappe gefinansier wat tot groot lewensverliese in Afrika-lande soos Angola, Sierra Leone, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Liberië gelei het.” (125)

Eindelik staan “duiwelsklip” as simbool vir alle gierigheid, korrupsie en geweld. Die implisiete waarskuwing na soortgelyke, hedendaagse wanpraktyke spreek duidelik uit die roman. Nadat Linda Louw haar gevestig het as diamantsorteerder en -delwer, het sy geleer dat diamante nie skaars en gesog is soos mense vermoed nie, maar dat groot instansies soos De Beers diamantpryse wêreldwyd kunsmatig hoog hou en manipuleer. Parallel met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het sy besef dat mense se lewens drasties deur misdaad gedevalueer word, eintlik waardeloos word, maar as “kunsmatig hoog” deur die nuwe regering aan sy kiesers voorgehou word. In die slothoofstuk, “net ’n stuk steenkool”, breek die besef deur dat diamante hulle bekoring finaal vir haar verloor het, en dat eerlikheid en integriteit figuurlik die ware “juwele” behoort te wees wat ’n mens moet najaag.

Duiwelsklip is ’n eerlike en ingeligte roman – en sterk aan te beveel vir lesers wat hou van goeie, maar aweregse, literatuur.

Dit is ook as ’n eBoek beskikbaar.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment