DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Resensie Woderboom: Netwerk24 #eBoeke

via netwerk24

eboek

Wonderboom

Lien Botha

Lien Botha is ’n kunstenaar-fotograaf wat bekend is om haar talle nasionale en internasionale tentoonstellings.

Haar debuutroman, Wonderboom, was die produk van ’n MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die UK onder leiding van Etienne van Heerden.

Wonderboom speel af in ’n postapokaliptiese Suid-Afrika. Daar is geen sentrale regering nie en die land word deur vigilantes beheer. In die Wes-Kaap voer Albino X ’n diktatoriale skrikbewind op Vergelegen, eens die plaas van Simon van der Stel. Albino X herinner aan ’n diktator soos Idi Amin en het ’n voorliefde vir menslike taksidermie en dekadente partytjies. Die ekonomie is aan flarde, daar heers voedseltekorte aangesien boerderybedrywighede grootliks opgeskort is en ’n algehele tekort aan basiese lewensmiddele is aan die orde van die dag. Elektrisiteit is skaars, kannibalisme kom voor en die land se natuurlike hulpbronne is uitgeput.

Die roman sluit tematies aan by Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990), Jaco Botha se Miskruier (2005), Koos Kombuis se Raka: Die roman (2005) asook Eben Venter se Horrelpoot (2006) om maar enkeles te noem.

Die verhaal word vanuit die derdepersoonsperspektief aangebied wat afgewissel word met die protagonis se eerstepersoons­inskrywings in dagboekstyl.

Magriet Vos bevind haar midde in Albino X se wurggreep en beplan ’n uitgerekte reis na die noorde om by haar familielede aan te sluit en sodoende van Albino X se tirannie te vlug. As deel van haar ontsnappingsplan moet sy allerlei uitdagings oorkom wat met tye tragiese gevolge het. Sy reis onder andere met ’n musiekgroep wat musiek vir bome speel om hul groei sodoende te stimuleer.

Tydens die tweede fase van haar tog na die noorde word sy as skaap vermom om van die vigilantegroepe wat hulle tydens die reis kan ­teëkom, te ontsnap (sekere gebeure neig telkens na die karnavaleske). Magriet word verder deur ’n moordbende oorval en amper deur ’n weldoener verkrag.

Magriet se reis versinnebeeld menige Suid-Afrikaner se daaglikse vrese. Botha benut hierdie ­vrese deeglik as deel van haar ­literêre spel om spanning en afwag­ting te skep.

Ironies maak Botha van talle onlangse aktuele gebeure gebruik om die morele en politieke verval van die gemeenskap uit te beeld. Verwysings na die MIV-pandemie, die herrie rondom koloniale beelde met spesifieke verwysing na Cecil John Rhodes, asook die elektrisiteitskrisis wat die land tans ondervind, kom aan die bod.

Botha lewer indirek kommentaar op die kapitalisties georiënteerde verbruikersamelewing wat in hierdie postapokaliptiese Suid-Afrika tot ’n nuwe vorm van ekonomiese segregasie gelei het. Verwysings na geskiedkundige gebeure soos kolonialisasie deur die VOC, die Anglo-Boereoorlog, apartheid en die Grensoorlog in die voormalige Suidwes-Afrika word op geslaagde wyse by die teks geïntegreer as deel van die verteller se herinneringe aan vervloë dae. Botha fokus dus nie slegs op die negatiewe gebeure van ’n postapokaliptiese Suid-Afrika nie, maar kyk ook na die verlede om die toekoms beter te kan interpreteer.

Met verloop van die narratief besef die leser egter dat Magriet aan geheueverlies ly en dat haar demensie stadig besig is om haar geheue en herinneringe van die verlede te verswelg. Magriet poog om haar herinneringe vas te lê deur dit in ongedateerde dagboekstyl in ’n boek neer te skryf. Sy verwys ironies na hierdie boek as “Die vergeetboek”, waarin die ­leser gebeure wat voor die aanbreek van anargie in die land plaasgevind het, kan beleef.

Talle verwysings na musiek, voël­spesies en veral bome kom in die roman voor, net soos in Schalk Schoombie se roman Boomkastele (2015). Hierdie amper terloopse verwysings vorm ’n integrale deel van Magriet se lewensverhaal aangesien dit met spesifieke gebeure gepaardgaan en bydra tot die skep van ’n spesifieke ­atmosfeer in die roman. Die beskry­wings prikkel die leser se sintuie en verbeelding.

Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ’n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.

Soos by laasgenoemde skrywers fokus Botha veral op die sintuig­like waarnemingsvermoë van haar protagonis om die leser te boei. Haar spel met woorde is poëties van aard en paragrawe moet soms herlees word om die inhoud ten volle te kan verwerk.

Wonderboom is nie eenvoudige leesstof nie, maar is ongetwyfeld een van die belowendste en opwindendste debute wat ek in ’n lang tyd gelees het.

■ Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment