DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Piekniek by Hangklip – Fiksie – eBoeke

http://myafrikaans.com/piekniek-by-hangklip.html

Joshua Gumbo, ‘n lid van die Lucky Thirteen-sindikaat in Johannesburg, skiet Sonja Griessel se ouers per abuis wanneer hy Sonja se 4×4 probeer kaap. In die proses struikel sy uit die voertuig en plant ‘n soen op haar kaper se mond. Die dood van haar ouers traumatiseer Sonja dermate dat sy al haar besittings oppak en padgee na die Kaap, waar sy haar voete weer wil vind. Joshua, wat glo dat die soen hom van sy mojo beroof het, vat haar spoor.Deur die reinste van toevalle spoor Joshua eindelik vir Sonja op, en hul paaie is bestem om vir oulaas te kruis – by die geselligheid waaraan die boek sy titel te danke het.

Resensie deur  Joan Hambidge 

 
Joshua Gumbo (van die Lucky Thirteen-sindikaat) skiet Sonja Griessel se ouers per ongeluk dood tydens ‘n mislukte kaping. Sy soen haar kaper op die mond en dit ontstig hom so dat Josua haar dan agtervolg. Hy het deur hierdie aksie sy mojo verloor. Sy vertrek Kaap toe om te traumatiese gebeure te verwerk en vestig haar op Pringlebaai. 

Hierdie roman is soos die Maigret-reeks van Georges Simenon. Die fokus nie net op die uitkoms of oplossing nie, maar op die psigologiese spanninge tussen mense. Breytenbach is ‘n fyn stilis en ‘n meester van ironie. Met tonele wat Bakhtin as karnavalesk sou beskryf.
Boonop skep hy ‘n ouktoriale verteller wat van die leser ‘n medepligtige maak met uitsprake soos “boonop weet hy nie wat ons weet nie” en met hofies wat ‘n hoofstuk voorafgaan. Jy word ook as liewe leser aangespreek. Dit is dus ‘n vertelling wat deurentyd kommentaar lewer op die leesproses en die gebeurlikhede soos dit ontvou. En daardie “ons” is dan eintlik die speurder-as-leser.

Henry Fielding (1707 – 1754) se Joseph Andrews en Tom Jones is duidelike intertekste wat die opsomming van die verhaalgebeure verduidelik. Fielding was magistraat; Sonja is ‘n prokureur. Daar is ook toespelings op Pamela / Shamela-parodieë, te wete die antwoord op Richardson se ernstige roman.

Die roman speel in op Etienne Leroux se Een vir Azazel met daardie roman se eiesinnige aanpassing van die speurverhaal. ‘n Mens dink ook aan Erica Jong seFanny (1991), wat met die tradisie van die Fielding-roman in gesprek tree. Die verhaal van Fanny Hackabout-Jones is ‘n parodie van Fielding se werkswyse. Ons vind ‘n literator (hy is ‘n trassie) wat biografieë skryf onder andere oor Abel Coetzee en Jan Senekal. Karel Schoeman maak ‘n buiging, soos Barend J. Toerien met sy groot neus. (Semioot: jy moet snuffel en al die tekens reg vertolk.) 

Op ‘n skerpsinnige wyse word die rol van die verteller en skrywende instansie geanaliseer en die talle verwysings na die bestaan van God, Boeddha, karma, die noodlot wat ‘n meditasie word oor die implikasies van skryf. Flaubert se dictum oor die funksie en rol van die skrywer in ‘n verhaal, word op sy kop gedraai. Die verteller meng die hele tyd in en is nooit afwesig nie.

Ons vind eweneens vreemde name vir karakters, so bekend aan Thomas Pynchon se werkswyse waar dit ‘n simboliese implikasie dra, soos Jaap Schvantz of Cas van Ryneveldt. (Oedipa Maas, eat your heart out. Oedipus, my ass…)

Daar is vele toespelings: na musiek, na kos, volksfabels en ander verhale wat die boek kompleks maak. Dit lees vlot en onderhoudend, maar onder draai die duiwels rond. ‘n Bitter gal in die soetste wyn, as jy wil. En die Afrikaanse digkuns word eweneens betrek.
Kuberkrakers, dieetspeurders, argitektuur, Nietzsche, Latynse frases, spirituele debatte, die soeke na jou mojo, vertrouenswendelaars in religieuse praktyke (soos die United Church of Zambia), maak van hierdie parodies-satiriese roman ‘n ervaring wat jou laat lag (soos oor gedekonstrueerde kookkuns!), maar ook laat sidder omdat dit felle kommentaar lewer op die geweld in ons samelewing. 

Austin Powers skeer die gek met James Bond en júis in sy satiriese antwoorde wys hy op die pornografie van geweld in Bond-films. Hierdie roman wil ons, soos wat Fielding gedoen het, attent maak op die werklikheid daarbuite. Hierom herken ons werklike mense, soos wyle Kobus Pienaar aan wie die roman opgedra is.

Die piekniek tree uiteindelik in gesprek met Sewe dae by die Silbersteins en veelal lewer die roman vernuftige kommentaar op die gesprek tussen Etienne Leroux en Thomas Pynchon. En Fielding se siening oor hoé romans die werklikheid reflekteer. (Die verwysings na Kafka en Henry James verdien verdere speurwerk oor hul sieninge van wat romans wil bereik. Ek hoor ook Nabokov soms in die agtergrond lag. En Aristoteles oor oorsaak en gevolg moet ook opgevolg word!)

Dit is ‘n boeiende teks. Uitstekend geskryf en met hierdie roman lewer hy ‘n teks wat ‘n besóndere plek inneem in ons romankuns. Die kos- en musiekkenner, die rubriekskrywer en uitgewer se ervarings het neerslag gevind in hierdie ryp werk. Dit was beslis die moeite werd om hiervoor agtien jaar lank te gewag het! Ek was so teleurgestel toe ek hierdie boek klaar gelees het…ek wou nog meer lees.

Dit is ‘n roman wat my vreemd genoeg teruggeneem het na Die Mugu: oor hoe toeval jou lewe kan verander.

 

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]

via Piekniek by Hangklip – Fiksie – eBoeke.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment