DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Nuwe Afrikaanse eBoek oor Verhale uit die Ander Wêreld

Andrew Barlow skryf:
“Hierdie is ‘n bundel van twintig verhale uit die Ander Wêreld. Dit is die wêreld wat langsaan die bekende een bestaan en nie deur alle lewende mense waargeneem kan word nie.
Dit is goed dat dit so is. As die gebeure van daardie Ander Wêreld deur ‘n ieder en ‘n elk gesien en gehoor kon word sou min mense die spanning en vrees van daardie belewenisse kon oorleef het.
Sommige van die verhale is droewig en treurig, ander is weer opgewek en vrolik en terselfdertyd droewig en treurig. Sommige is wreed en vreeswekkend.
‘n Paar is waar – het werklik plaasgevind. Met een of twee uitsonderings is al die ander gegrond op werklike gebeure in die geskiedenis.
Al die verhale is egter nie die gewone spookstories nie. Hulle is anders.
Die leser moet self besluit watter verhale is waar en watter is effens of gedeeltelik verbeelding en watter een of twee is suiwer verbeeldingsvlugte.”

Uittreksel uit die kortverhaal “Die wa” uit die eBoek “Verhale uit die Ander Wêreld”:

Die Wa

Dit is die jaar agtien honderd ses en dertig. Die Voortrekkers het die Kaapkolonie al begin verlaat maar in die gebied wat later bekend sou wees as die kol waar die Unie van Suid-Afrika, Rhodesië en Mosambiek se grense bymekaar sou kom, was daar nog nie witmense nie. Af en toe het jagters en ander reisigers daar getrek maar dit het baie selde gebeur.

Vir die mense in daardie gebiede en veral verder noord waar die Shonas gewoon het, was witmense nog onbekend. Die laeveld streke was veral yl bewoon weens die koors en veesiektes wat daar `n verskrikking was.

Carl Myburgh het van die ongetemde wêreld gehoor en geluister na die paar jagters wat hy ontmoet het. Hulle het vertel van die wild wat daar nog baie volop was – allerhande soorte – in die laeveld sowel as in die hoëveld. Hy het besluit om sy boerdery in die sorg van sy voorman te los en te gaan kyk. Na baie wik en weeg het hy besluit om vyf waens en sewe spanne osse op die tog te neem. Twee kleurling mans met wie hy saam groot geword het en wat nog steeds sy maats was en twee jong seuns om te help as touleiers sou al mense wees wat saamgaan. Die drie volwasse mans sou die ander werk om die beurt behartig om sodoende bykomende werkers uit te skakel.

Hy het die waens, osse en al die nodige voorraad gekoop asook genoeg ruilhandel goedere.

Daar was hier en daar spore van jagters, reisigers en Voortrekkers wat hulle vir ente af en toe kon volg maar die tog het meesal deur ongerepte gebiede getrek. Carl het slegs `n skeepskompas wat hy gekoop het gehad om te help met die rigting wat hy wou volg. Daar was nie kaarte van die streke nie en hy het slegs so reguit hy kon `n koers noordwaarts ingeslaan.

Die waens was betreklik lig gelaai en dit was dus nie baie moeilik om hulle deur die riviere en dongas, bulte en leegtes, berge en valleie te kry nie.

Na `n paar maande het hulle die gebied van die Soutpansberge bereik. Daar het hulle `n ruk by `n vriendelike hoofman se stat oorgestaan. Die osse en die vyf mense het daar gerus en die osse het weer vet geword na die lang harde tog van die Kaap af. Die hoofman het die hele gebied baie goed geken en vir Carl vertel dat hulle `n groot gebied waar mens en dier baie gou en baie maklik siek word sou moes deurgaan voordat hulle by die hoogliggende gebied van die Shonas sou aankom. Om deur die koorsgebied te reis met osse sou onwys wees omdat baie, selfs die meerderheid van die osse daar sou doodgaan van nagana want dit is tsetse vlieg gebied. Mense kan makliker daardeur gaan as hulle versigtig is.

Carl het aan die hoofman verduidelik dat hulle op pad na sy gebied die laeveld vermy het maar nie die laeveld tussen die hoofman se gebied en die van die Shonas sou kon vermy nie. Hy het egter raad van `n ou ervare jagter gekry om wa ghries met kamferolie te meng en dit te smeer op die ontblote dele van hulle liggame as hulle deur koorsveld sou trek. Hulle sou dit doen en hopelik sal hulle dan ongedeerd in die hoëveld kan aankom. Die hoofman het geglimlag en gesê dat die witmense se medisyne miskien ook goed is om mense bestand te maak teen koors en die ander siektes van die laeveld maar hy sal dit glo as hy dit eers gesien het.

Die hoofman het onderneem om die geselskap se waens, osse en ander goedere op te pas terwyl hulle weg is. Carl het met hom onderhandel om draers te kry en teen vergoeding van deel van die ruilhandel goedere. Hy het aan hulle veertig draers gegee onder beheer van sy oudste seun Sibongile. Hy het dit benadruk dat Sibongile `n baie ervare jagter en krygsman was en dat Carl moet sorg dra dat hy hom deeglik raadpleeg as daar moeilike en vir Carl onbekende omstandighede sou wees.

Die groep is toe daar weg. Die twee seuns wat as touleiers gehelp het, het daarop aangedring dat hulle wou saamgaan en Carl het gemaak asof hy onwillig was om aan hulle versoek toe te gee. Nadat hy hulle genoeg geterg het, het hy ingestem en was besonder verbaas oor die egte blydskap van die twee jong seuns. Met slegs `n groot hoeveelheid ruilhandel goedere om te dra het die veertig mans fluks gevorder. Saans het hulle vroeg kamp opgeslaan en behalwe die droë hout vir kook en braai gebruik het hulle baie nat groen hout bymekaar gemaak om `n digte rookskerm om die kamp te maak om die muskiete weg te hou.

Hulle het `n week lank getrek en toe die hooglande bereik. Die nagte was koud en hulle moes vure om die kamp die hele nag deur aan die brand hou vir warmte en om roofdiere weg te hou. Carl het die plaaslike Shona hoofman op die gebruiklike wyse van sy aankoms in sy gebied laat weet en om toestemming gevra om hom te besoek. Die hoofman het `n gesant na hom gestuur met gebruiklike geskenke van slagvee en `n olifant tand.

Die hele geselskap het na die hoofman se stat getrek en daar op die aangewese plek gewag. Nadat al die formaliteite nagekom is, het Carl en sy twee maats begin jag. Die wild was daar nie deur jagters met vuurwapens geskiet nie en was dus maklik om te jag. Die hoeveelheid wat die veertig draers en die vyf waens sou kon dra is gou bereik. Die ivoor is uitgesny, die velle met sout behandel en so gedroog dat dit maklik en doeltreffend later voorberei kon word. Baie biltong is gemaak en nadat dit droog genoeg was so gepak dat dit in bondels gepak en gedra kon word sonder om sleg te word. Die vleis is aan die hoofman en sy mense gegee.

Carl en sy geselskap het die terugtog toe begin. `n Dag voordat hulle die laeveld bereik het, het dit begin reën. Nie hard nie. Net aanhoudend. `n Stywe reën wat effens harder as `n mot reën was. Hulle is die laeveld binne en die reën het aangehou. Al hulle klere was naderhand nat en Carl was bang dat die velle en biltong ook sou nat word. Die seile waarin die goed toegedraai was het egter gelukkig die water uitgehou. Nadat hulle die derde dag in die laeveld gestap het, al sukkelend met die swaar vragte, moeg en tam, ietwat terneergedruk het hulle na `n hoë heuwel gestap om die nag daar kamp op te slaan.

Die reën het gelukkig die muskiete en ander insekte weggehou. Terwyl hulle die groot seile as dak oopgespan het, het dit opgehou om te reën. Toe hulle klaar was het Carl `n ent weggestap vanwaar hy die leegte onder die heuwel kon sien. Dit was toe donker. Hy het na die kamp gestap en sy verkyker gaan haal. Sibongile het stip na hom gekyk maar niks gesê nie. Carl het dit nie opgemerk nie.

Hy het kort daarna na die kamp teruggekeer.

Daar is `n wa onder in die leegte. Dis sowat `n myl hiervandaan. Ons het dit seker weens die reën nie gesien nie. Ek wil gaan kyk wie dit is. Wie gaan saam?”

Niemand het belanggestel nie en Carl is alleen daar weg. Hy het vinnig gestap en af en toe as die wa uit sig was weens die aard van die terrein het hy na `n effens hoër plek geloop. Die wa was verlig – dit het gelyk asof daar `n lig binne die wa brand.

Hy het tot naby die wa gekom en `n ent daarvandaan dit goed bekyk. Die wa was van buite verlig en `n lig het binne die wa gebrand. Die nag was donker. Die wolke het nog laag en dik gehang. Daar was geen lig van die sterre of die maan nie. Hy het rondgekyk maar daar was niks sigbaar wat die lig kon veroorsaak het nie.

Hy het sy geweer van sy skouer afgehaal en dit in sy hande oorgehaal gehou. Dit was reeds gelaai met kruit en lopers. Agter het die tent seil afgehang en kon hy nie binne die wa sien nie. Hy het vorentoe geloop om binne te kyk en toe hy aan die staal trap langs die wakis wou vat het sy hand daardeur gegly en het hy byna geval. Hy het na die wa se reëling gegryp om sy ewewig te behou maar sy hand en arm het deur die reëling gegly.

Hy het `n entjie weggestaan en na binne in die wa gekyk. `n Man en vrou het op die kant van die katel gesit. Styf bymekaar. Hulle het hande vasgehou en net daar gesit en kyk. `n Lantern het aan die balk van die tent gehang en dit was aangesteek. Hy het die mense gegroet maar hulle het hulle nie aan hom gesteur nie.

Alles was duidelik verlig. Alles kon goed gesien word. Die lig was nie helder nie maar baie duidelik. Sy hand en kaal arm het kriewelrig gevoel. Hy het daarna gekyk. `n Melkerige jellieagtige stof wat nie heeltemal deurskynend was nie het daaraan gekleef. Met nat gras wat hy afgetrek het, het hy sy hand en arm skoongemaak.

Weereens het hy binne in die wa gekyk. Die man en vrou het nog netso roerloos daar gesit.

Kliek hier om verder die eBoek te lees!

#eBoeke

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment