DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Nuus – Confessions Of An Alcoholic’s Son : #Afrikaanse eBoek

Afrikaanse eBoek

(‘n Afrikaanse Verhaal)
Werner Schmidt 2013

Hiermee ‘n uittreksel van die nuwe eBoek van Werner Schmidt.

Ek begin by haar einde

Nou hel
[Kan gesing word op die wysie van The First Noel]

Refrein
Nou hel, nou hel.
Haar dae getel.
Dertig jaar whisky het haar neergevel.

27 Desember 1999

18:30

Pretoria Akademiese Hospitaal (“H.F. Verwoerd”).
Die dokter aan diens by die intensiewesorgeenheid kom roep ons. Ons loop die kamer binne; dit voel koel, koud.
Sy lê daar, stil.
Steeds bewusteloos; hartklop op die monitor, wisselend. Die dokter praat van groet, haar einde is naby.
Vat aan uitgeteerde arm. Koud. Nog altyd ’n koulike mens. Wag vir dieflatline op die hartmonitor, soos in mediese TV-programme, maar dit kom nie en dit kom nie.
Net n onvoorspelbare gefladder van ‘n vlinderhart. Lewe sy, of lewe sy nie?
Is sy dood?
“Daar is ’n sekere momentum aan die masjiene waaraan jul ma gekoppel is. Sy is dood,” verduidelik die dokter.
Dus gaan ek nie my dramatiese laaste-asem-uitblaas van haar kry nie? Hoe lank is sy al dood? Terwyl julle tee gedrink het? Hoe weet jy sy’s dood? Wie’s jy om vir my te vertel daar’s nie meer hoop nie?
Ek buk af en gee Ma ’n laaste soen op haar voorkop. My lip talm ‘n oomblik lank op koue klip. Ek wou by haar mond uitkom maar daar is steeds ’n dreineerpyp tesame met ’n suurstofpypie in haar neus.
Sy het veral in die laaste maande benadruk hoe sy netsoos Oupa nie ’n soenmens is nie.
Sy was 52 jaar oud. Het sy 40kg geweeg?
My suster hardloop uit die aand in en ek agterna. Ons staan in ’n kringetjie mekaar en vashou, saam met haar vriend en my meisie. Ons huil.
Ons sou vir Ma hiérdie keer regruk. Vir eens en vir altyd.
Dinge het nie volgens my plan verloop nie.

25 Desember 1999

Ek en my meisie moet haar gaan oplaai om die dag saam by haar familie deur te bring. My suster hou by my pa Kersfees. Sy maak die deur oop, valer as gewoonlik. Ek soen en druk haar. Sy is die ene bewerasies, vel en been in my arms.

“Die OTM het my kaart ingesluk. Kan jy vir my R75 leen?”

Ek kliek: die klok is aan die aftel.

Dit het al ‘n tweede natuur geword by my. Ek het immers saam met hierdie mens grootgeword.

Hoeveel keer vantevore het sy nie deur onttrekking en ineenstorting en rehab gegaan nie? Been there. Done that.

“Sal ons ry?” sê-vra ek. Sy kom uit en trek die deur toe.

Dis Kersfees, dit sal darem seker nie vandág gebeur nie?

’n Jaar of wat, voor hierdie Kersdag, het ek by haar gebly toe ek vir ’n eksamen voorberei het. Ek sou soms in die nanag wakkerskrik wanneer sy die huis bewandel omdat haar lyf haar wakkergemaak het om te gaan ‘optop’.

Hierdie is my normaal.

Die internis wat Ma behandel het met haar onttrekkingsepisode gedurende 1997, het gesê, “Haar liggaam sal nie weer n soortgelyke proses kan hanteer nie.” Ek besluit dat sy okay behoort te wees as sy binne ’n redelike tyd by ‘n OTM kan uitkom.

Wat kan ek in elk geval nóú doen? Ons moet by die familie uitkom en drankwinkels is boonop toe op Kersdag. Ek kan tog nie by ’n restaurant aandoen vir ’n oop bottel whisky nie! In ieder geval sou sy waarskynlik vir my vra, “Nou wat de f*k moet ek met hierdie whisky doen?”

Ek besluit om deur te druk met die familie-afspraak en om haar daarna so gou moontlik weer by die huis te kry, dat sy die vakansiedae kan uitwag en ’n drankwinkel teen die 27ste, of dalk al die 26ste, kan nader vir ’n bottel vrede. Ons ry dus na haar broer se plek in die natuurreservaat. Ma het ’n groot sonbril op. Haar gesig het vergeel en geswel oor die laaste weke.

My neefs en niggies is na hul onderskeie skoonouers vir die dag, dus is dit ek, my meisie, ooms, tannies, Ma, Oupa en Ouma. Die dag verloop in ’n ligte luim soos altyd by my ma se familie en dit gee my gemoed vir ‘n rukkie vlerke.

My ma bewe al hoe meer. Sy rook ’n paar sigarette eenkant terwyl ek naby haar rondstaan. Sy sukkel om die sigaret by haar mond uit te kry.

Die kos word bedien: heerlike braaikos – soos altyd by my ma se familie. My aptyt laat my nie in die steek nie en ek smul behoorlik aan die keurige bord kos. Ma eet een hap. Haar mes en vurk bewe, klingel teen haar bord en die geselskap word vir ‘n oomblik stil. Sy sit haar mes en vurk neer, leun effens agteroor en kreun so ’n bietjie, terwyl sy haar maag vashou: “Sjoe, dit was nou lekker, maar ek is nou heeltemal versadig.”

Ek eet my nagereg, sy nie. ‘n Haastigheid kom sit in my bors en nadat ons gegroet het, verlaat ek, my meisie en die wandelende sonbril die byeenkoms. Het die oorblywende
familielede enigiets bespreek rondom die gebeure? Na wat voel soos ’n ewigheid, laai ek vir Ma by haar huis af, omtrent ’n kilometer en ’n half van my pa se huis af waar ons nog tot 1995 as ‘n gesin saam gewoon het.

Ek soengroet die bewerasie en gee haar ‘n druk. Ek draai om en dink: Gaan drink tog net, dat jy kan vrede ervaar!
Catch-22. As sy weer begin drink het, was sy so goed as dood en as sy aangehou uitdroog het was die uitkoms dieselfde.

Ek voel steeds soms skuldig omdat ek haar nie Kersdag reeds by ’n hospitaal besorg het nie. Was daar dan niks wat ek kon doen wat haar liggaam nog hierdie een keer sou kon laat deurskraap het nie? As sy gehospitaliseer kon word na net een of twee stuipe-aanvalle byvoorbeeld?
Wat maak dit saak? Sy sou my gevloek het as ek haar na ’n hospitaal toe probeer vat het voor haar hallusinasies ingetree het. Of sou sy?

En dit was Kersdag, 1999.

via Nuus – Confessions Of An Alcoholic’s Son : #Afrikaanse eBoek.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment