DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

’n Fado gekom oor die oseaan – Irma Joubert | #eBoeke

http://www.litnet.co.za/Article/n-fado-gekom-oor-die-oseaan

Koop die eBoek hier!

“Die geringste stukkie van enige mens se lewe wat opgeskrywe staan, is iets moois,” skryf Jeanette Ferreira  in haar historiese roman Die son kom aan die seekant op. In Margaret Bakkes se Fado vir ’n vreemdeling is Cornelis Homan hierdie “nietige stuk mens, reddeloos meegevoer … in ’n onstuitbare geweldsituasie” (71). Die verhaal, gebaseer op die navorsing deur Cobus Ferreira, volg Homan se donker noodlotspad. Dit word die universele verhaal van die nietige mens wat uitgelewer is aan oorlog, dood, vervreemding, ontheemding.

Luister na Fado-musiek, gedigte van Amália Rodriques en jy verstaan die ondertoon van die roman wat soos ’n troue hond in die spoor van die hoofkarakter loop: noodlotsmusiek “van nostalgie en verlore liefde en bitterheid, met begeleiding wat soms rou, soms sag soos ’n fluistering, soms hartverskeurend droef op die oor val” (12).

Die redelik onbekende verhaal van die Boere-krygsgevangenes in Portugal tydens die Anglo-Boereoorlog dien as basis van die roman. Maar dit begin lank voor die oorlog, miskien selfs by die oorsprong van die armblankes: Cornelis se grootouers het goed gelewe op die familieplaas Allesverloren. Sy pa, die jongste van vyf seuns, moes ’n ander heenkome vind en word ’n bywoner by Gert Benade, Cornelis self soek later sy heil in die Nuwe Nineve, beland in die krotbuurtes van Johannesburg, waar sy vrou tydens sy afwesigheid in prostitusie verval. Wat eindelik van sy ma en drie dogtertjies geword het, kan ’n mens net raai.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 gaan Cornelis op kommando. In die veld voel hy ná jare weer vry, vind hy iets van sy hunkering na sorgvrye kinderjare weer terug. Wanneer hy bevorder word tot kommandant Mostert se adjudant, voel hy dat hy besig is om iets te bereik, om iemand te word.

Maar die noodlot bly hom volg. Cornelis loop saam met sy kommando oor die grens na Mosambiek, beland eindelik in ballingskap in die Portugese dorpie Abrantes. Hy probeer geluk vind binne sy nuwe ruimte, sien die eeue oue mooi van die dorpie raak, leer ’n welgestelde Portugese gesin ken. Maar selfs dit lei tot sy eindelike lot – nie eens sy kleindogter weet werklik van hom nie, daar is net ’n verweerde graf met sy naam op in die vreemde.

Ook die lot van ander karakters in die verhaal gryp ’n mens aan. Cornelis se ma, Maria Homan, weet eindelik haar lewe staan in die teken van verlies, verlies, verlies (42) – haar hart is stukkend … oor ellend en teëspoed en verlies en armoede wat aan haar lewe kanker (50). Annita de Araujo, die willose ongeluksvoël wat met ’n yl gejammer uitroep: “Nee, nee, my God, ek kan nie hier bly nie!” (273), moet haar lot gelate aanvaar – daar is geen ander uitkoms nie. Want dinge gebeur soos hulle moet, teen alle wil en beplanning in.

Die roman is geskryf in ’n ouwêreldse, soms gelade taal. Tog bly dit lesersvriendelik, die taal pas by die tyd waarin die verhaal afspeel, dit dra by tot die atmosfeer. Plek-plek word dit pragtig poëtiese taal – fado’s vir die vreemdelinge in onbekende plekke.

Die leser wat minder in geskiedenis belang stel, kan dalk voel dat die feite oorheers, dat die storie ingeboet word om plek te maak vir feite wat interessant mag wees, maar wat nie direk bydra tot die verhaalgebeure nie. Vir my as liefhebber van ’n goeie historiese roman is hierdie ’n boeiende verhaal van ontroerende menslikheid oor ’n stuk van ons volksgeskiedenis waarvan baie van ons min weet.

via ’n Fado gekom oor die oseaan – Irma Joubert | LitNet.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment