DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Moord in die beloofde land – Fiksie – eBoeke

http://myafrikaans.com/moord-in-die-beloofde-land.html

 

Koop die eBoek hier!

Riette Rust resenseer Moord in die beloofde land soos volg:

Met byna 20 romans vir volwassenes agter sy naam is François Bloemhof een van die produktiefste skrywers in Afrikaans. Sy gruwelverhale laat jou ril en gril soos geen ander nie en die spanningslyne laat jou behoorlik wakker lê.

Wat opval van Moord in die beloofde land,is die diggeweefde storielyn. Nes jy dink jy het al die drade bymekaar, is daar nog (skokkende) verrassings.

Die verhaal speel hoofsaaklik tussen die 1970’s en 1990’s af. Die Smit-gesin lyk van buite doodgewoon: pa is ’n dokter, ma ’n huisvrou en hulle het twee seuns. Gaandeweg besef jy egter dat hulle swaar dra aan die erfenis van geweld. Ook dat die beloofde land met sy wit ideale midde-in apartheid onder die oppervlak seer is en wil oorkook.

Samuel lei ’n skynbaar doodgewone lewe van skool, universiteit, weermag en trou. Die gebeure word nie chronologies aangebied nie en juis dít skep spanning. Samuel se seksuele ontwaking en geestelike volwassewording word met deernis geskets en Bloemhof kry dit goed reg om vuurwarm sekstonele te skryf.

Ook in dié huis, met sy “modeldokter” aan die hoof, word die teenwoordigheid van ’n bose mag wat letterlik swaar op skouers rus, aangevoel. Dis een van die redes waarom Samuel nie sy onskuld verlóór nie, maar dat dit van hom weggeneem word, soos die buiteblad sê.

Saam met dié donker ding in die huis ontwikkel die hoofkarakter ’n obsessie met die destydse skêrmoordenaar, Marlene Lehnberg. Sy word nie net deel van sy seksuele fantasieë nie, maar is ook die stem in sy kop wat hom tot gruweldade aanmoedig. Ly hy aan skisofrenie? wonder jy aanvanklik. En sal die hoofkarakter toegee aan die stem? Lees maar self.

Nicolette, Samuel se vriendin, is reeds as skooldogter in die roman teenwoordig. Deurentyd wonder die leser: Is sy of Lehnberg die eintlike liefde van Samuel se lewe?

Die verhouding tussen Samuel en sy broer, Erik, word realisties, maar empaties  uitgebeeld. Dié twee is totale teenpole. Erik is die studerende, presterende een. Ma se witbroodjie wat later teen homself beskerm moet word. Samuel stel weer meer in die lewe en fliek as in skoolwerk belang. Sal hy, soos baie gemiddelde presteerders, later tog ’n sukses van sy lewe maak?

Hulle ma is die mooi huisvrou wat alles reg doen. Maar dan verskyn die letsels van mishandeling op haar lyf. Samuel kan dit nie kleinkry hoekom sy ma nog by sy pa bly nie. Maar ook hiervoor is daar ’n goeie rede. Knap uitgedink!

Bloemhof kry dit ook netjies reg om die tagtiger- en neëntigerjare te laat herleef en die leser met nostalgie te vervul. Dit was die tyd van inryteaters, TV-reekse soos Vyfster, skouerkussings, Phil Collins se St Elmo’s fire. Maar ook van afgryslike rassisme en moord (op die grens).

Moord in die beloofde land is ’n spanningsverhaal en familiesage met genoeg elemente van die tipiese gruwelverhaal. Meisies word summier afgemaai. Een se hand word elders opgetel. En ’n gesig word oopgekloof tot die agtertande sigbaar word. Sjoe! Wie is hiervoor verantwoordelik? Die antwoord is nie een wat maklik voorspel kan word nie …

Samuel word tog ’n (knap) joernalis wat dit (op ’n onderduimse manier) regkry om ’n onderhoud met sy obsessie Marlene Lehnberg te voer. Donker kom teen donker te staan. Hoe sal dit verloop?

Die bose magte, oftewel die pikswart ondertoon wat heeltyd onderliggend is, sorg vir ’n surrealistiese kinkel waarvan Samuel teen wil en dank deel word. Dis verrassend en lekker om te lees. Trouens, Moord in die beloofde land is ’n boek wat jy in een sit sal wil deurlees. En heel moontlik sal wil herlees. Maar – as jy dié  roman wil aanskaf, moet jy nie sensitief wees vir geweldstonele of vir kokende seks nie.

 

‘n Spanningsvolle, intrigrerende roman oor Samuel wat as seun reeds kennis maak met die donker sy van die lewe. Sy inisiasies in die grootmenswêreld (liefde, seks, die “reëls” van die ou Suid-Afrika, joernalistiek), van die 1970’s tot die 1990’s, is vervleg met sy obsessie met die skêrmoordenares Marlene Lehnberg.

via Moord in die beloofde land – Fiksie – eBoeke.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment