DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Lees ’n uittreksel uit Chanette Paul se Offerlam

Bron

17 Januarie 1961 – Katanga

Die naglug stink na savannestof en sweet en vrees. Na verraad, gierigheid en magsug. Koloniale Afrika se vrot asem. ’n Asem wat sy goed ken.
Sy linkerhand klem om haar arm. Die regterhand is ’n knellende vuis om haar kaak.
“Kyk, slet,” sis hy in haar oor. “Kyk!”
Dis donkermaan. Voor hulle staan Elia onder ’n akasia asof vasgevang deur die ligkol wat die voertuie se koplampe werp. Buite hierdie bleek vlek tussen niewers en nêrens nie, doem die vae gedaantes van nog bome op. Iets ritsel in die lang gras ’n ent links van hulle. In die verte huil ’n jakkals, ’n maat treur saam.
’n Bevel word gegee. Vier gewere word hoorbaar gereedgemaak.
Sy wil haar oë toemaak, maar dié bly star staar asof haar ooglede gestysel is.
Elia hoes en spoeg bloederige slym eenkant toe. Die eens wit frokkie is nou gevlek met grond, sweet, speeksel, bloed. Een skoen het verlore geraak. Sy blik is nie op die polisieoffisiere met die gewere nie. Van agter die bril wat skeef sit op sy vernielde gesig, kyk hy direk na haar. Die weerkaatsing op sy brillense maak die uitdrukking in sy oë onleesbaar.
Nog ’n bevel. Gewere word na die skouers gelig.
Sweet rol teen Elia se slape af. Hy beur aan die toue waarmee sy hande agter sy rug vasgemaak is, probeer speling vir sy enkels bewerkstellig, maar gee moed op. Sy kniekoppe ruk op en af. Sy kuite tril. Die mond is stroef geplooi.
Alles voel onwerklik. Dit wat hier voor haar oë afspeel en ook wat vroeër vanaand gebeur het.
Sy het die rooksuil van ver af gesien toe sy na Elia se huis op pad was om hom te waarsku. Wat sy huis was. Niks het die brand ontkom nie. Nie sy lessenaar, waar al sy dokumente was, of die boekrakke met die boeke wat hy so kosbaar geag het nie. Nie die foto uit beter dae waar hy en Patrice Lumumba handskud nie. Natuurlik ook nie sy Immatriculation-bewys nie. Die een stukkie papier wat ’n jaar gelede nog meer as goud werd was vir elke évolué. Die paspoort na bevoorregting.
Die volgende oomblik het ’n voertuig langs haar stilgehou en is sy ingeboender. Die nuuskieriges wat na die verwoesting staan en kyk het, het nie een ’n vinger gelig om te keer nie.
In hierdie oomblikke voor die onvermydelike gebeur, is Elia nie meer die ewige student, die leermeester of die man wat so filosofies kon raak nie. Nie meer Patrice Lumumba se vriend, mentor en kritikus nie. Of die man wat soveel weesgelate kinders help voed en klee en opvoed het nie. Nie meer die optimis wat net uithou en aanhou nie.
Hy is net ’n man in ’n besmeerde frokkie met ’n bril wat skeef op sy neus sit. Een wat te veel weet. Wat ’n te groot invloed op Patrice gehad het. ’n Struikelblok geword het.
Maar hy is veral die man wat haar liefgekry het.
Nog ’n bevel. Die woorde dring nie tot haar deur nie, die intensie wel.
Die klampe om haar arm en kaak verstyf.
Glo Elia in hierdie oomblik nog aan God se wil? Die wil van ’n God wat uitkoms gebring het vir Abraham toe hy sy seun wou offer, maar vir sy eie Seun nie dieselfde genade gehad het nie? Ook nie vandag vir Elia nie.
Sy gil toe die salvo skote klap. Asof dit onverwags was. En dalk was dit. Dalk wou sy nie glo dat hierdie wit barbare, dat César, werklik so laag kan daal nie.
Elia se lyf ruk en tol effens na regs, sak teen die boomstam af en bly op ’n hoop lê in die vlak graf wat hy vermoedelik vroeër self moes grawe. Vlees, pees en been wat geen doel meer dien nie. Bloed wat vir oulaas deur die hart gepomp het, vlek die frokkie karmosyn – kamoefleer die smeersels stof en speeksel.
César stamp haar met geweld eenkant toe. Sy val hard op die klipperige grond. Pyn skiet deur haar knie en elmboog, die savannegras krap haar arms. César vryf sy hande teen sy broekspype af asof hy besmet voel. Sy bleekblou oë ontmoet hare net voor ’n spoegstraal uit sy mond skiet en teen haar wang klerts.
In die agtergrond hoor sy hoe Elia se liggaam met kluit en klip en grint toegegooi word.
Die wêreld kantel kortstondig.
“Elia!” Dis meer ’n oersteun as ’n uitroep. ’n Rou geluid uit dieptes van ’n plek in haar wat sy nie geweet het bestaan voor sy besef het waartoe die mens in staat is nie.
Die eerste stewel tref haar in die sy. Die tweede teen die skouer.
“Hoer!”
Êrens roep ’n uil na sy maat.
Nog ’n skop ontplof teen haar slaap.
Die ligkol vervaag, los op in die naggeluide van donker Afrika.

Maandag 1 September Caz Overberg

Tieneke se stem kom so duidelik asof sy van die buurplasie af bel, al sit sy seker maklik ses duisend kilometer ver. Die woorde haak egter êrens in Caz se oor vas, die betekenis deur een of ander buisie of beentjie of aambeeldjie verwring. Tieneke? Ná al hierdie jare?
“Ek sê: Moeder is op haar laaste,” herhaal haar suster toe Caz nie reageer nie – selfs in hierdie omstandighede ongeduldig.
Só onthou Caz haar. Al het sy eintlik al vergeet.
“Ek het nie gedink Moeder leef nog nie,” kom haar stem uiteindelik los. “Sy moet diep in die negentig wees.”
“Sy is agt en negentig en was relatief gesond en heel helder vir haar jare, tot ’n paar dae gelede. Sy het net skielik verswak en weier om siekehuis toe te gaan. Dis ook nie nodig nie. Ek versorg haar immers die grootste deel van haar lewe al. Hoekom sal ek dit nie doen tot sy sterf nie?” Verwyt is dik loog op die bodem van haar stemtoon. Caz staar nikssiende na die blerts wat die janfrederik op die hoek van die lessenaar agtergelaat het. Klein maaifoedie kom vreet Katja se korrels en vlieg dan die hele huis vol net om weer ontslae te raak daarvan.
Wat sê sy vir Tieneke? Jammer om te hoor Moeder is sterwend op die rype ouderdom van agt en negentig? Jammer jy het toe nooit getrou nie en is op vyf en sestig seker nou te oud daarvoor? Jammer ek het nie tog probeer kontak maak nadat ek een en dertig jaar gelede, toe ek julle die nodigste gehad het, soos ’n brandsiek brak weggejaag is nie?
“Hoekom my eens laat weet, Tieneke?” Die vraag klink harteloos. Sou harteloos gewees het in enige ander omstandighede. Is dalk steeds.
“Moeder wil jou sien voor sy sterf.”
Alles om haar word stil. Die wind in die oliewenhout, die gejil van voëls. Die sagte dreun van die rekenaar. Asof sy in een fel oomblik van haar gehoor ontneem is.
“Wát?” Die woord spat uit haar mond.
“Daar is nie baie tyd nie. Jy sal ’n Schengen moet kry. Jy sal na die Belgiese Konsulaat toe moet gaan. Ek neem aan jy het darem ’n paspoort. Jy moet eers die vliegkaartjie koop, anders word die visum nie uitgereik nie. Jy wil sekerlik nie in Dubai of Istanbul jou tyd mors nie, vergeet dus Emirates en die Turkse lugdiens, al vlieg hulle Brussel toe. KLM vlieg direk Amsterdam toe en van daar kry jy die trein na Gent-Dampoort. Dit duur ongeveer drie ure. Afhangende van watter trein jy neem, stap jy drie of vier keer oor. Rotterdam, dalk Roosendaal, Antwerpen Sentraal, Gent-Sint-Pieters. Van Gent-Dampoort af neem jy Bus 3. Jy klim af by …”

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment