DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Horrelpoot #eBoek

Koop die eBoek hier!

Koop die eBoek hier!

via: http://www.litnet.co.za/leopard-s-leap-leesmedalje-horrelpoot-deur-eben-venter/

Daar is boeke wat jy wil lees, maar wat jy nie mag lees nie, soos byvoorbeeld André P Brink seKennis van die Aand in die 70’s en DH Lawrence se Lady Chatterley’s Lover, wat ek as tiener wou lees.

Dan’s daar boeke wat jy moet lees, maar nie wil lees nie. So dink ek aan Van Melle se Bart Nelwat ‘n voorgeskrewe werk was in standerd sewe, en ‘n paar ander voorgeskrewe werke op universiteit wat nou nie juis die verbeelding aangegryp het nie.

En dan is daar boeke wat jy doelbewus lees … om net halfpad deur die boek te besef dat jy dit nie moes gelees het nie. Horrelpoot is, myns insiens, een van hulle.

Eben Venter is ‘n gerekende romanskrywer in Afrikaans en ek het reeds twee van sy romans gelees. Sy styl is uiters leesbaar en met Horrelpoot kry hy dit reg om die leser vinnig binne die eerste paar bladsye te betrek by sy verhaalgegewe.

Die hoofkarakter, Marlouw, keer terug na Suid-Afrika op versoek van sy suster om sy susterkind, Koert, te kom haal. Koert het skynbaar ‘n jaar of wat vantevore teruggekeer na die ou familieplaas iewers in die Vrystaat en weier oënskynlik om terug te keer na sy nuwe vaderland, Australië.

Venter baseer ook die raamwerk van die roman op Joseph Conrad se roman, Heart of Darkness, en dan is daar ook daarmee saam die verdere verwysing na Francis Ford Coppola se fliek,Apocalypse Now, wat ook Conrad se boek as verwysingsraamwerk gehad het. Die inligte leser is dus gereed om op ‘n reis in donker Suid-Afrika ingelei te word met Marlouw as die toergids.

En dis net hier waar hierdie leser begin vasskop het. Die verhaal speel af op ‘n onbepaalde tydperk in die toekoms. Ek byt maar swaar aan romans wat in die toekoms afspeel. Een uitsondering was George Orwell se Nineteen Eighty Four wat ekself in 1984 vir die eerste keer gelees het. Skrywers van hierdie tipe fiksie tree dikwels soos profete op, maar dan kan dit sekerlik nie van enige wetenskapsfiksieskrywer gesê word nie.

Hoe dit ook al sy, Eben Venter skryf nie wetenskapsfiksie nie. Hy beeld net ‘n nuwe Suid-Afrika iewers in die toekoms uit. En watter verskriklike plek is dit nie!

Suid-Afrika is besig om uitmekaar te val. So kan Marlouw byvoorbeeld nie meer direk na Johannesburg toe vlieg nie en moet hy via Fidji ‘n verbinding neem. Die land is in ‘n toestand van algehele verval.

Venter spaar nie die sensitiewe leser se sintuie nie en skep ‘n duidelike visuele beeld van die algehele verval en korrupsie waaronder die ou vaderland gebuk gaan. By tye het ek die boek verwens en weggesit. Net om dit later weer op te tel en te lees. Die inhoud is baie onstellend en het hierdie leser tot introspeksie gedwing.

Vurige debatte om die eetkamertafel het gevolg terwyl my huismense vir my probeer oortuig het dat Venter in der waarheid net die skrif aan die muur uitspel vir die res van ons. Ek wou dit nie aanvaar terwyl ek die boek gelees het nie en ek weier steeds om te aanvaar dat ons as agtergeblewe Suid-Afrikaners amper reddeloos ronddobber op pad na ‘n reuse afgrond, maar ek is bereid om te aanvaar dat sekere indiwidue wel so voel.

Marlouw ontmoet Koert uiteindelik na sy lang omswerwinge en Koert word beskryf as ‘n vreeslike oorgewig gedrogagtige diktator met ‘n gangareenbeen. Nodeloos om te sê, weier Koert om saam met sy oom terug te keer na Austarlië.

Koert praat die wonderlikse vorm van brabbelAfrikaans. Venter behoort geloof te word vir hierdie skepping. Dit klink en lees ‘n bietjie soos die Brasse vannie Kaap se sangstyl en lirieke. Die boodskap is myns insiens duidelik, niks in hierdie Suid-Afrika is soos dit was nie.

Ouplaas behoort nou aan die voormalige plaaswerkers en is, soos deur die doemprofete voorspel, ‘n skadubeeld van die vorige plaas. In die tyd wat Marlouw op die plaas vertoef, breek die laaste werkende windpomp dan ook en breek die einde letterlik vir die hulpelose plaasbewoners aan.

Die roman het vele fasette en ek raak in hierdie resensie slegs aan ‘n paar. Ek dink dit sal beslis ‘n hele paar letterkundiges lank besig hou met verdere analises. Vir my, as gewone leser, was dit ‘n onthutsende en ontstellende boek wat my lank laat wakker lê het.

Sal ek dit aanbeveel? Moeilike vraag. Ja, as jy ‘n avontuurlustige en ywerige Afrikaanse leser is, gaan voort. Maar as jy iets wil lees om te ontsnap van die alledaagse sleur en die harde werklikheid, bly weg!

Groete,

Ludolf Parker

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment