DOING BUSINESS IN THE EU


Doing business in the EU

Elke pot – uittreksel uit Kronkelpaaie eBoek

 

Uittreksel uit Kronkelpaaie deur Andrew Barlow

 

Elke pot #eboeke

Elke pot #eboeke

 

Elke Pot

Die wagkamertjie by die streekhof in Hillbrow is baie klein. Daar is net drie mense daarin – ʼn man en ʼn vrou en ʼn bewaarder. Die ander mense wat wag vir die sake waarin hulle belang het, sit in die hof en luister of staan in die gang rond. Dit is stil daar, die stemme is gedemp soos die van mense wat by ʼn begrafnis is want op ʼn manier is dit ʼn begrafnis. Daar word daagliks getuig van iemand wat doodgemaak is, of ernstig beseer is, of verkrag is of oor ʼn ander misdaad wat ook baie ernstig is. In al hierdie gevalle sal die beskuldigde, as hy skuldig bevind word, vir baie jare tronk toe gaan. Hy is dan uit die gemeenskap verwyder; weg van sy mense; en die wêreld buite die mure van die tronk word gou vir hom ʼn skimbeeld. Iets om oor te droom en na te verlang en wat gou onwerklik word soos die vae herinnering aan ʼn droom as ʼn mens wakker word en jy nie mooi kan onthou waarvan jy gedroom het nie.

Dit was ʼn koue, winderige, reënerige aand toe die jong man haastig, vooroor gebuk na die bushalte gestap het, haastig om uit die nattigheid te kom, in die beskermende binnekant van  die bus, huis toe na sy vroutjie en hulle klein, piepklein babatjie. Hy het die man nie gesien nie en het geskrik toe hy skielik hier by hom praat: “Asseblief tog meneer, kan meneer nie ʼn tien rand of so spaar nie. Ons het nie kos by die huis nie en ek en my vrou werk nie en daar is vyf kinders wat honger ly?”

Die skrik, die nat winderige koue, die haas om tuis te kom, het hom ongeduldig gemaak. Hy het met die vinnige opkyk net gesien dis ʼn groot fris, sterk man van so om en by vyf en veertig jaar oud wat hier by sy skouer langs hom loop. “Gaan kry vir jou werk en sorg vir jou gesin dis net slegtigheid dat jy moet bedel!” En die jong man stap aan.

Hy het ʼn paar uur later in die hospitaal bygekom. Daar het hy twee weke lank gelê. Die groot man het hom met ʼn kort, dik swaar knuppel oor die kop geslaan en toe hy val het hy hom met sy swaar stewels geskop. Van sy besittings het die groot man slegs sy klere gelos. Al die ander goed het hy geneem – die aktetas, sy beurs met die geld, al die kaarte, en sy horlosie. Hy had skedelbreuk opgedoen en vier van sy ribbes was gebreek, sy neus was ʼn pappery en twee van sy voortande was uitgeskop.

Toe hy bygekom het en sterk genoeg was om behoorlik te kan praat het hy aan die polisie ʼn beskrywing van sy aanvaller gegee. Tussen al die baie mense in Hillbrow sou dit op die oog af ʼn byna onbegonne taak wees om so ʼn aanvaller op te spoor. Die polisie ken egter die inwoners van hulle gebiede verbasend goed en die gedrag van die mense word in talle gevalle gou bekend. Hulle het geweet van die groot fris sterk man wat net af en toe ʼn bietjie werk en dikwels bedel. Die beskrywing het die man gepas. Toe die jong man gesond genoeg was, het hulle die groot man wat alreeds  gearresteer was op ʼn uitkenningsparade laat verskyn. Hulle het reeds met sy inhegtenisname van die jong man se eiendom in sy woonstel gekry. Dit was moeilik om ander mans te kry wat min of meer so groot was en min of meer soos die groot man gelyk het om deel te neem aan die uitkenningsparade. Dit is ʼn vereiste dat die mense op so ʼn parade min of meer soortgelyk moet wees.

By die parade het die jong man sy aanvaller sonder twyfel uitgeken. Die getuienis teen die groot man was onweerlegbaar.

Nou sit  die groot man en sy vrou in die wagkamertjie. Styf langs mekaar en die bewaarder sit ʼn ent weg en maak asof hy niks hoor of sien nie. Die man en sy vrou is onaansienlik – lelik, grof en hard; onverfynd met niks wat die hardheid kan verberg nie. Die lewe het hulle hard gemaak; daar was duidelik nooit enige werklike vreugde in hulle lewens nie, min plesier, min van die luukse, min van die milddadigheid wat sommige mense oënskynlik so maklik te beurt val . Sy voorkoms boesem vrees in by ʼn mens as jy hom sien. Hy is wreed en genadeloos en baie sterk.

Hy is egter ook – van kleinsaf al – baie sku vir werk. Hy bestaan hoofsaaklik deur misdade soos huisbraak met die opset om te steel en diefstal, roof en swendelary te pleeg. Hy is nie hierin juis bekwaam nie en is al dikwels tronk toe gestuur.

Hy sit in die wagkamertjie en wag om gevonnis te word – hy is reeds ʼn week of twee tevore skuldig bevind aan die roof. Hy is ʼn bloubaadjie –ʼn gewoonte misdadiger – iemand wat so gereeld ernstige misdade gepleeg het  dat hy al drie keer tevore tot gewoonte misdadiger verklaar is – hy sal vandag die vierde keer so verklaar word. Hulle word bloubaadjies genoem omdat hulle inderdaad blou baadjies dra om hulle van die ander gevangenes te kan onderskei.

Hy en sy vrou is al baie jare lank getroud. Hulle was nog sommer jonk toe hulle getroud is. Hy was egter nie dikwels by die huis nie; sy kinders, daar is vyf van hulle, ken hom nie juis nie. Vir die meerderheid van die verby vervloë jare was hy in die tronk.

Sy het hom nooit geskei nie.

Nooit eens daaraan gedink nie, Hulle het mekaar dan nog steeds lief. Innig en werklik lief.

Hulle sit styf langs mekaar op die harde, die enigste bank in die wagkamertjie. Hulle hou hande vas. Die hele tyd. Hulle glimlag vir mekaar en hulle gesigte is bymekaar. Saggies praat hulle met mekaar terwyl die ure verbygaan want die bewaarder het die aanklaer gevra om die saak ʼn bietjie laat aan te bring. Vir die volgende nege of tien of veertien jaar – niemand weet nie want dis ʼn onbepaalde vonnis – sal hulle mekaar maar min kan sien en dan nie weer so nie.

Nie weer so innig bymekaar nie, nie weer so gesigte dig bymekaar nie, nie weer so op dieselfde bank nie, nie weer so laggende oë diep in mekaar kykende nie.

Nie weer met ʼn begrypende bewaarder wat op die punt van die bank sit en maak asof hy niks hoor of sien nie; wat geduldig wag terwyl die lang vervelige ure vir hulle soos flitse verbysnel nie.

Wreed! Genadeloos! Sterk en sonder enige mensliewendheid! Lelik, grof en onverfynd! Hard en sonder vreugde! ʼn Gevaar vir almal wat in hulle pad kom!

Maar hulle het mekaar lief. Werklik, innig opreg lief.

Afrikaanse eBoek oor die howe

Afrikaanse eBoek oor die howe

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

I am an International human resources consultant to multinational companies in international employment law and employee relations.

Leave a Comment