Working in the Netherlands


Working in the Netherlands

eBoeke op jou foon

 

Van papier en e-boeke na jou foon

2010-10-16 15:24 in Beeld

Deur Carolyn Meads

Byna die helfte van Suid-Afrika se huishoudings besit nie ’n enkele boek wat vir ontspanning gelees kan word nie, het die navorsingsmaatskappy TNS ’n jaar of vier gelede bevind. Maar sowat 90% van alle Suid-Afrikaners het volgens die Internasionale Telekommunikasie-unie ’n selfoon.

Bring dié twee werklikhede by mekaar uit en ’n nuwe verskynsel word gebore: die sogenaamde mobi-boek, oftewel die selfoon- of m-boek.

“Die jeug lees en skryf reeds op selfone en ons wou kyk of hulle aanklank by langer tekste op selfone sou vind,” sê Steve Vosloo van die Shuttleworth-stigting wat verlede jaar begin het met die boek-op-selfoonkonsep met die doel om ’n leeskultuur en geletterdheid te bevorder.

So kon lesers van September verlede jaar oor 21 dae die verhaal Kontax hoofstuk vir hoofstuk van ’n selfoonwebtuiste en van MXit, ’n sosiale kletsnetwerk, aflaai.

In Mei het die tweede verhaal in die reeks gevolg en is albei verhale al 34000 keer gelees. Met die sowat 4000 opmerkings van die lesers is die verhaal aangepas, ontwikkel en uitgebou.

Gaan loer gerus na die Shuttleworth-stigting se nuwe “aanlyn-biblioteek” van selfoonstories, genaamd Yoza. By www.yoza.mobi en op MXit kan jy elke dag nuwe hoofstukke van onder meer die liefdesverhaal Sisterz, die sportstorie Streetskillz en ’n storie oor groepdruk en MIV, Confessions of a Virgin Loser, lees.

Al wat jy nodig het, is ’n selfoon met internettoegang.

Kyk net wat het onder meer in Japan gebeur waar m-boeke al ’n paar jaar gewild is. Daar kan jy op selfoonwebtuistes soos MobaMingle ’n wye verskeidenheid boeke aflaai en op jou selfoon lees.

En jy kan jou eie verhale op so ’n webtuiste plaas.

Soms is daar pryse vir die gewildste stories en dit gebeur dikwels dat ’n gewilde m-verhaal in druk uitgegee word. So is vyf van die tien top-verkoperboeke in 2007 in dié land oorspronklik vir die selfoon geskryf.

In Suid-Afrika gebeur dit al hoe meer dat boeke wat eers in gedrukte vorm verskyn het nou digitaal en op selfone beskikbaar is, soos William Shakespeare se Macbeth en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Of die Bybel in m-vorm, wat volgens Bertus Preller van Christian Mobile en sy Cellbook-tegnologie al byna 500 000 keer (en heeltemal gratis) oor die wêreld heen afgelaai is.

Cellbook verkoop verskeie m-boeke wat in ’n meer volwasse smaak val, soos Paul Holden se Arms Deal in Your Pocket en Ligdans deur Jeanne Els. Al wat jy moet doen om Els se boek op jou selfoon te kry, is om die kode “cmld” per SMS na 31990 te stuur. Dit sal jou R40 kos.

En van die selfoon na die papierboek… Sam Wilson, die skrywer van Kontax, ondersoek die moontlikheid om sy m-verhale te laat druk, al beteken dit hy sal sy m-boeke vir die gedrukte weergawe moet uitbrei.

Die hoofstukke van sy mobi-boeke is tans net sowat 400 woorde lank.

“Jy kan nie woorde (vir ’n selfoon-verhaal) mors nie en jy moet jou lesers vasgevang hou. Ek gebruik baie raaisels en eindig elke hoofstuk op ’n hoë noot,” sê hy.

Maar die voordeel van korter skryf is dat hy elke woord oorweeg en só sy skryfvaardighede slyp.

M-boeke, meen hy, is ’n doeltreffende aanvulling by gedrukte boeke.

En omdat lesers die stories aanlyn kan bespreek, wek dit ’n gevoel van samehorigheid en skep so ’n lesersgemeenskap. Teen veel minder as wat (nuwe) papierboeke kos.

Aangesien Yoza ’n geborgde projek is, is die m-boeke in dié aanlyn-biblioteek gratis. Lesers betaal slegs datakoste vir selfoon-internetgebruik en ’n storie kan so min as ’n paar sent kos.

Karen Brooks se fantasieboek vir jong mense Emily and the Battle of the Veil is eers gedruk en daarna digitaal op MXit uitgereik. Die tweede boek in die reeks is gelyktydig op MXit en in gedrukte vorm gepubliseer. Op MXit betaal jy slegs R1 per hoofstuk (R23 vir die eerste boek), terwyl die gedrukte weergawe jou R113 sal kos.

Brooks skryf bewustelik vir selfoonskerms én papier en haar hoofstukke is daarom elk sowat 2000 woorde lank. Sowat 80000 lesers het al die Emily-hoofstukke teen R1 per hoofstuk afgelaai, sê Brooks.

En wat wonderlik is, is dat die “kinders (tydens haar besoeke aan skole) steeds vra waar hulle die gedrukte boeke in die Emily-reeks kan koop!”

Vir Fiona Snyckers, wat Sisterz vir Yoza skryf, beteken die “honderde opmerkings” by haar selfoonstories alles wat goed is vir die toekoms van lees en die boek in die land.

“Dit lyk of jong mense, as hulle stories op hul selfone kry, al hoe minder weerstand teen die lees van boeke het.”

En as hulle die m-boek geniet, begin hulle hopelik gedrukte boeke lees, sê sy.

En aankoop.

Carolyn Meads is ’n  vryskutjoernalis.

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

André Beukes is an EU Management Consultant to international companies doing business in Europe. He provides clients with practical business support that makes a real difference doing business in the EU. “Put simply, I am here to help you meet your challenges. I believe in the importance of doing things correctly, meaning risks are reduced and problems are avoided.”

  • Facebook
  • LinkedIn

Leave a Reply to Andre Beukes Cancel Reply