Working in the Netherlands


Working in the Netherlands

Ewebeels #eBoek

Ewebeeld

 

http://myafrikaans.com/ewebeeld.html

’n Onlangse uitnodiging aan Chanette Paul deur die Jungiaanse vereniging van Kaapstad toon dat sy nie bloot ’n blitsverkoper is nie, die akademici begin nou ook raaksien wat die gemiddelde leser al lankal weet: Onder die spanningsvolle oppervlakte skuil hier ’n meesterlike verteller wie se boeke op vele vlakke gelees kan word.

Ewebeeld is geskryf vir mense wat Siende blind en Raaiselspieël geniet het en daar is geen twyfel dat “gewone” lesers weer hierdie boeke gaan opraap nie. Siende blind was sestien weke lank op Nielsens se topverkoperlys – sewe keer in die top 20. Raaiselspieël was sewentien weke op Nielsen se lys, en elf keer in die top 20. Die drie boeke is beplan om saam gelees te word. En, vir almal wat van haar gehou het, Jojo Richter is terug!

Ewebeeld stel nie teleur nie. Die spanning gryp die leser reeds op die eerste paar bladsye wanneer ons agterkom dat Lanie, die derde mevrou Von Fürstenberg, ’n gevangene is in die sprokiesagtige kasteel. Wat meer is, die vorige twee vroue wat hier vertoef het, is albei koelbloedig uit die weg geruim om plek te maak vir nog ’n identiese vrou.

Die feit dat al die vroue identies lyk, is belangrik. Daarvoor sorg Ludolf von Fürstenberg se fortuin, want die plastiese sjirurge boetseer elkeen van von Fürstenberg se metgeselle na sý beeld van die ideale vrou.

Roux van Reenen word met ’n slenter ook in die kasteel toegelaat. Hy is ’n kenner van brandglas en was verantwoordelik vir die uitbeelding van die verskeie mitologiese panele op die kasteel se brandglasvensters. Vir die akademici vertel die onderskeie panele ’n baie interessante verhaal. Vir die lekkerleesleser beteken dit dat hulle begin naels kou wanneer beide Roux en Lanie besef dat daar oënskynlik geen ontsnapkans is daar nie. Die dood skyn hulle voorland te wees.

Lesers van sprokies weet egter dat kastele altyd ’n toring het vanwaar jy soos ’n voëltjie kan probeer vlieg, maar wat van die drake? Von Fürstenberg het nie eens vlieënde drake nodig nie: hy betaal oudspesmaglede om sy vuilwerk te doen.

Wat volg, is ’n uiters spannende aantal hoofstukke met gesteelde motors en oneindig baie adrenalien. Vullisdromme word deursoek, televisieprogramme word gekaap en verskeie messe trek bloed…

 

’n Aktuele teks

Suid-Afrika is ’n land waar honderde vroue jaarliks deur hulle manlike metgeselle vermoor word. Chanette Paul is al vir baie jare ’n aktivis teen vrouemishandeling en tydens die lees van Ewebeeld is daar verskeie verwysings na hoëprofielhofsake waar mans aangekla word van geweld teen vroue. Nie net skep dit ’n konteks vir die verhaal nie, dit skep ook spanning: Hierdie vroue het dit nie een oorleef nie…

Wilna Adriaanse sê van Ewebeeld: “Chanette is beslis een van die soepelste stemme in Afrikaans en kry dit keer op keer reg om die lesers te verras. Sy het nog nooit geskrik om moeilike en selfs kontroversiële temas aan te pak nie. Hierdie manuskrip is net weer ’n bewys daarvan. Sy raak hier ’n interessante en relevante tema aan – veral na aanleiding van die aantal hoëprofielsake wat die afgelope paar jaar in die nuus was, waar jong meisies/vroue die slagoffers was van geweld en selfs moord deur ’n geliefde. Dit is beslis ’n tema wat wyd aanklank sal vind.”

Ewebeeld herinner nogal aan The skin I live in, daardie ysingwekkende sielkundige riller van Agustín Almodóvar onder regie van sy broer, Pedro Almodóvar, met Antonio Banderas in die hoofrol.

Hoewel die akademiese leser heelwat letterkundige truuks in haar werk sal raaksien, is Chanette skaamteloos dat sy haar boeke só skryf dat gewone mens dit moet geniet. In ’n onderhoud het sy gesê: “Boeke is soos vye of turksvye, ek skryf vye.”

 

Die Skrywer

Ewebeeld is Chanette Paul se veertigste roman.

Paul is geliefd onder lesers met haar twee reekse: Die sewe historiese romans, genaamd die Davelvroue, en die vyf spanningsromans, wat in die volksmond bekend staan as die Gys Niemand-reeks.

Ná die Gys Niemand-reeks volg die Maanschijnbaai-tweeluik wat saam ’n humoristiese familiedrama vorm oor die vier Calitz-vroue van verskillende ouderdomme, en in verskillende lewensfases, wat moet saamstaan teen die samelewing.

In haar jonger dae het Chanette ’n Perskorprys gewen. Sy was al twee maal ’n finalis vir die ATKV-Prosaprys, een maal ’n finalis vir ’n ATKV-Woordveertjie in die spanningskategorie en een maal in die liefdesromankategorie.

Chanette het ook reeds twee maal die Lekkerlit-prys gewen – ’n prys wat deur lesers, nie skrywers nie, uitgeloof word.

 

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

André Beukes is an EU Management Consultant to international companies doing business in Europe. He provides clients with practical business support that makes a real difference doing business in the EU. “Put simply, I am here to help you meet your challenges. I believe in the importance of doing things correctly, meaning risks are reduced and problems are avoided.”

  • Facebook
  • LinkedIn

Leave a Comment