Working in the Netherlands


Working in the Netherlands

Geite en Giere: Nou spel jy boek met ’n e

 Besoek die Afrikaanse eBoekwinkel

Lees berig deur Willem Kempen in Rapport

Afrikaanse eBoek

Afrikaanse eBoek

As e-boeklesers twintig jaar gelede al alledaags was, sou daar sekerlik ’n grappie die ronde gedoen het van die omie wat ’n nuwe Kindle koop elke keer as hy ’n nuwe boek aanskaf, sodat daar op sy boekrak later honderde van dié toestelle staan, elk met ’n handgeskrewe etiket op die rugkant met die titel!

Maar die eBoek was nié twintig jaar gelede al alledaags nie, en vandag se ouer geslag het heelwat ingehaal op hulle kinders en kleinkinders se kennis van die digitale era – spesifiek oor elektroniese weergawes van die gedrukte boek.

Nee, die wonder van ’n keurig versorgde boek van regte ink en papier sal nie verdwyn nie. Iewers op ’n rak – dalk by my ma – is ’n eksemplaar van Die ruiter in die nag deur Mikro, die eerste “regte” boek wat ek deurgelees het.

Dit was ’n bruingeel hardeband, met ’n rooi en swart stofomslag waarop die silhoeët van ’n perd en ’n ruiter op ’n hoogtetjie te sien was; die ruiter met ’n hoed op sy kop en sy hand voor sy oë om die sonlig weg te keer terwyl hy die laagte in tuur.

Of Ruiter in die nag as ’n e-boek iewers te koop is, weet ek nie – en ek stel ook nie belang nie. Daar is wel ’n hardeband-eksemplaar daarvan te koop op www.bidorbuy.co.za, sien ek.

Sal my sewejarige dogter ook dekades van nou af kan terugdink aan die eerste boek wat sy op ’n Kindle gelees het? Waarvan die digitale letters nog presies lyk soos die dag toe dit afgelaai is? Waar geen naam voorin pryk nie?

Die waarheid is egter dat die boekebedryf nie net uit nostalgie en tweedehandse sagtebandboeke ’n bestaan kan maak nie.

Daar ís hoop, sê bedryfsleiers soos Jim Hilt, visepresident vir die eBoek by die Amerikaanse boekereus Barnes & Noble. Waar die fokus in 2011 op die e-leser as toestel was, is dit vanjaar op dít wat op daardie toestelle geléés kan word, sê Hilt.

EBoek, het hy in Januarie by die Digital Book World-konferensie in New York gesê, is net ’n toegangspunt om verbruikers te help om te doen wat hulle reeds doen, naamlik om goeie boeke te lees en nuwe inhoud te ontdek. “Om die snuffel-ervaring wat jy in ’n boekwinkel kan kry op ’n 7 duim-skerm eBoek te sit, dít is nou die uitdaging van ons bedryf.”

Nog goeie nuus is dat lesers honger is vir nuwe boeke en dat hulle dit duidelik geniet om dit op hulle e-lesers te lees. Amazon, wie se Kindle een van die voorlopers in die mark is, het byvoorbeeld in die tweede kwartaal van 2010 vir die eerste keer meer e-boeke as hardeband-eksemplare verkoop; en ses maande later is ook die sagteband-weergawe verbygesteek.

Een van die redes vir dié tendens is dat die e-leser ontwikkel het van iets waarop jy vir die snaaksigheid ’n boek kon probeer lees tot iets wat ’n gedrukte boek in baie opsigte klop: makliker, gerieflik en (gewoonlik) goedkoper.

Die gewildheid van toestelle soos Apple se iPad, wat ook as ’n e-leser ingespan kan word, help ook: Wêreldwyd is sedert April 2010 al meer as 55 miljoen iPads verkoop. Suid-Afrikaanse verkoopsyfers is nie beskikbaar nie, maar dit kan tot 100 000 wees. As elkeen van dié iPad-eienaars net een plaaslike e-boek per jaar koop, kan dit ’n skaflike hupstoot wees vir ons uitgewersbedryf.

’n Basiese e-leser soos die gobii, wat deur Kalahari bemark word, kos sowat R900 en sluit ’n boekkoopbewys van R160 in. Dis waarskynlik heel bekostigbaar vir die tipiese boekkoper, maar waarom is die e-boeke self nog so duur in Suid-Afrika?

Die verklaring hiervoor het baie te doen met die koste van teksredigering en bemarking, wat grootliks dieselfde bly. Tog maak dít die deur wawyd oop vir skrywers om sélf hulle boeke uit te gee. Toegegee, heelwat daarvan gaan onleesbare prul wees, maar sê nou net dit lewer elke nou en dan ’n juweel op? En sê nou net duisende skrywers kan skielik ’n bestaan maak omdat hulle ’n groter deel van die inkomste uit hulle eie boeke kry? Hoe lekker sal dít nie wees nie!

Amper so lekker soos om ’n 73 jaar oue eksemplaar van Die ruiter in die nag op my boekrak te hê.

Wat is ’n e-leser?

’n E-leser is ’n toestel wat byna nét vir die lees van langer stukke teks (soos ’n roman) gebruik kan word. Hoewel hulle minder veelsydig is as die tabletrekenaar (soos die iPad), is hulle gewoonlik die beste manier om ’n e-boek te lees. Duurder e-lesers soos Amazon se Kindle Fire laat die grens tussen e-lesers en tabletrekenaars vervaag.

Wat word bedoel met…

Elektroniese ink Wat is dit? E-ink is een van verskeie soorte elektroniese “papier” wat die effek van regte gedrukte ink op regte papier op ’n skerm naboots. Elektroniese papier straal nie lig uit soos ander soorte vertoonskerms nie, maar gebruik weerkaatste lig, net soos regte papier. Voordeel: Dié hoogs stabiele beeld is makliker om te lees as ander tegnologie en word selfs in helder sonlig nie dowwer of andersins minder leesbaar nie. E-ink is ’n geregistreerde patent van die Ameri-kaanse E Ink Corporation, maar verskeie mededingers het soortgelyke produkte. ’n Rekenaar-‘wolk’Wat is dit? “Cloud computing” verwys na die tendens dat programme en ander inligting deur ’n net-werk beskikbaar gestel word, eerder as dat dit op die gebruiker se eie rekenaar geberg hoef te word. Gebruikers kan byvoorbeeld met ’n toegangskode op die internet toegang kry tot ’n teksdokument en die pro- gram waarmee dit oopgemaak kan word. Voordeel: Op Apple se iCloud kan jy byvoorbeeld jou foto’s, dokumente en apps berg sonder dat jy jou eie toestel (iPad, iPhone ensovoorts) se geheue daarvoor hoef te gebruik. Op dié manier sal jou kosbare boeke nie verlore gaan as jou e-leser gesteel word of breek nie.

Kies ’n e-leser

Skermgrootte Groter is beter, maar nie as dit te lomp raak om rond te dra of vas te hou nie. Vertoongehalte E-ink of soortgelyke tegnologie is moeilik om te klop. Dokumentformaat Sommige formate is spesifiek aan sekere handelaars, soos AZW vir Amazon se Kindle, maar die meeste e-lesers kan verskeie formate hanteer. As jy e-tydskrifte wil lees, maak seker jou e-leser kan dit ook doen. Internetverbinding Die eerste prys is WiFi of 3G, sodat jy nie ’n afsonderlike toestel nodig het om boeke te koop en af te laai nie. Beskikbaarheid van boeke Kyk of die soort boeke waarin jy belang stel wel teen goeie pryse beskikbaar gaan wees vir die e-leser wat jy in gedagte het. http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Geite-en-Giere-Nou-spel-jy-boek-met-n-e-20120316

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

André Beukes is an EU Management Consultant to international companies doing business in Europe. He provides clients with practical business support that makes a real difference doing business in the EU. “Put simply, I am here to help you meet your challenges. I believe in the importance of doing things correctly, meaning risks are reduced and problems are avoided.”

  • Facebook
  • LinkedIn

Leave a Comment