‘n Jaar in die land van verlies – Madri Victor | LitNet #eBoek #Afrikaans

 

Koop die eBoek hier!

‘n Jaar in die land van verlies. Dit is waarin Hester Human se verblyf in Provence ontaard. Kort voor hulle vertrek na Frankryk, waar haar argitek-man, André, ‘n ou huis wil restoureer, sterf hulle dogtertjie, Manon, op ‘n tragiese manier. Die jaar in Provence, wat veronderstel was om ‘n droom-verblyf te wees, ontaard vir Hester, André en hulle seun, Emile, in ‘n jaar van intense verlange, pyn en hartseer; grootliks ‘n jaar van stilte.Die eerste twee derdes van die roman is ‘n soort stiltetyd op sigself; die hele teks onderskryf stilte. Daar is min uiterlike gebeure in die verhaal en die leser se aandag word die hele tyd op Hester se emosies en psigiese toestand gefokus.

André raak toenemend gefrustreerd met sy vrou se stilte, maar sy gebrek aan sterk optrede omvou hom ook in ‘n soort stilte waaruit hy nie kan losbreek nie. Vir hom is sy enigste ontvlugting die werk wat aan die huis gedoen moet word. Sy onbeholpe pogings om na Hester uit te reik, en oorname van die huishoudelike pligte, beklemtoon eerder die stilte wat om hierdie gesin hang. Ook die tiener, Emile, praat nie oor sy suster nie en kan glad nie onthou presies wat op die dag van haar dood gebeur het nie. Hy voel gefrustreerd met sy ma se lang gesig, maar is magteloos teen die hartseer en die pyn wat sy ervaar. En aangesien hy skuldig voel vir Manon se dood, kán hy nie met sy ouers daaroor praat nie.

In Frankryk onttrek Hester haar geleidelik al meer van die wêreld om haar. Sy krul soos ‘n duisendpoot in om haar eie pyn, haar eie gevoelswêreld, sodat sy later geen poging aanwend om na haar man en seun uit te reik nie. Daar is by haar ‘n intense begeerte na stilte. Hierdie stilte vind sy heel letterlik wanneer sy in die koerant lees van Myriam Soro wie se naam onmiddellik assosiasies met sorrow oproep, ‘n vrou uit die Demokratiese Republiek van Kongo, wat albei haar kinders vermoor het. Myriam Soro weier om te praat. Oor haar hang daar letterlik ‘n ondeurdringbare stilte.

Hester word so gefassineer deur Myriam se storie dat sy vir haarself ‘n hele verhaal rondom die skamele feite in die koerant fabriseer. Op haar man se vraag hierna sê sy net: “Toe ek die droë feite in die koerant lees, het die res vir my duidelik geword” p 85. Hester skryf vir Myriam talle briewe, wat sy egter nooit pos nie, briewe wat dus nooit spreek nie, maar persoonlik en ingehoue bly – stil briewe. Hester voel haar een met Myriam, omdat sy haar verbeel dat daar by hulle dieselfde verskriklike gevoel van verlies moet wees. Sy het begrip vir Myriam se optrede, iets wat die afstand van onbegrip tussen haar en André verder vergroot.

via Stiltetyd deur Marita van der Vyver: n Jaar in die land van verlies – Madri Victor | LitNet.

 

 

 

 

 

 

Boeke op kortlyste vir UJ se letterkundepryse, kry die #eBoek hier!

Die kortlyste vir die Universiteit van Johannesburg UJ se prys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans en die UJ-debuutprys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans is pas ­bekend gemaak. Vir die UJ-prys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans, met ’n geldwaarde van R75 000, is drie Hertzog-bekroonde skrywers op die kortlys. Wilma Stockenström en Marlene van ­Niekerk het albei Hertzog-pryse vir poësie ­sowel prosa gewen en is ook albei op die kortlys vir die eerste Elisabeth Eybers-poësieprys. Etienne van Heerden het die Hertzog twee keer vir ­prosa gewen. Hy het die UJ-prys in 2009 ­vir 30 Nagte in Amsterdam ontvang.

Die skrywers op hierdie UJ-kortlys is soos volg:

 

Loots met Rooi Jan Alleman Umuzi,

Die klein Bram Fischer word gebore uit drome en beelde, met die geloei van Bloemfonteinse osse in die agtergrond. Hy sien die spoke van Paul Kruger en Jopie Fourie, asook dié van Hendrik Biebouw, die eerste Afrikaner. In hierdie roman skryf François Loots ’n kreatiewe, fiktiewe weergawe van Afrikaner-kommunis en struggle-held Bram Fischer se lewe. Die leser word gedompel in Fischer se leef- en gedagtewêreld, in die spanninge en avonture van die jong radikaal. Saam met Fischer, gaan ’n mens ondergronds. Wat is ’n mens se diepste gedagtes wanneer jy jou vermom? Wanneer jy soos ’n verkleurmannetjie in nuwe identiteite moet inglip? Of wanneer jy tronk toe gaan? Ná die strome drome, word Fischer geteister deur die demone van absolute eensaamheid. Maar wat deur alles bly staan, is sy onwrikbare liefde teenoor sy beminde Molly, wat hom kom verlos uit sy laaste droom. Soms is dit slegs deur die lens van fiksie wat mens iets van die ware geskiedenis kan agterhaal.

Stockenström met Hierdie Mens Human & Rousseau,

Hierdie veel bekroonde skrywer se eerste digbundel in 14 jaar. Dis toeganklike verse, gekenmerk deur ’n ironiese inslag, die toonaard verfrissend speels en lig. Maar die bundel staan ook in die teken van afskeid neem, en ’n sterk bewussyn van die onvermydelike naderkom van die einde van die lewe, ’n beleë aanvaarding van die onontkombaarheid van die slopingsproses.

Van Heerden met Klimtol ­Tafelberg,

Van Niekerk met Kaar Human & Rousseau

 

Die eerste digbundel in 30 jaar van een van Suid-Afrika se belangrikste skrywers. Hierdie omvangryke bundel sluit gedigte in wat wissel tussen pragtig liries en aangrypend menslik tot sterk satiriese protes- en politieke gedigte. Sowel die inhoud as die gebruik van taal getuig van ’n meesterlike skrywerskap.

Eben Venter met Wolf, Wolf Tafelberg.

Venter se boek is op die kortlys vir die Sunday Times­fiksieprys.

Eben Venter se roman is ’n diepsnydende ondersoek na die verhouding tussen pa en seun, na die ontreddering van ’n man wat bitter min uit die verlede kan neem om hom toe te rus vir ’n lewe in ’n snel veranderende bestel. Intens. Ontstellend. ’n Meesterlike ontrafeling van die dun lyn van gevoel – Venter aan die toppunt van sy vermoëns.

 

via Die Burger : Dié boeke op kortlyste vir UJ se letterkundepryse.

Nuus – Metterjare word hulle regte guite

http://myafrikaans.com/n-dief-aan-die-kers-skelm-woorde-deur-die-eeue.html

In Rapport:

Ek was weg, en ná daelange dwarrelvlugte oor ys, see en woestyn, deur oneindige spooktonnels van withelder wolke en rukwinde wat soos n son et lumière gevoel het, is ek toe terug in die moederland. Maar my gô en my pê was uit. My hart was dankbaar, maar ook vreugdeloos en pap soos koue kool. Ek was tobberig, piekerig en betjoings. Van korte duur, want ek kry toe n boek in die hande wat ek onafgebroke van begin tot einde regdeur die nag gelees het. Kry hom vir Krismis, toe.Dis n splinternuwe, sexy klein woordeboek wat soos n skalkse en vurige minnaar in jou hande hyg.

Die titel tart jou al klaar: n Dief aan die kers – Skelm woorde deur die eeue, geskryf deur die woordghoeroe dr. Anton F. Prinsloo en uitgegee deur Pharos.Die naam van die boek verwys na ’n ou Afrikaanse uitdrukking en beskryf die was van ’n kers wat skeef afloop. Dié uitdrukking lui “daar is ’n dief aan die kers, wat dan die was skelm-skelm aan die een kant van die kers steel”. Hete, eet mense nog by kerslig?

Waar’s die dae?

In hierdie boek beskryf hy hoe die “oorspronklike betekenisse van ongeveer 1 000 Afrikaanse woorde metterjare só verander het dat die betekenisse wat ons vandag ken, byna hoegenaamd nie sin maak nie”.Hulle is dus deur “soortgelyke woorddiewe mettereeue skeefgetrek sodat die huidige betekenis eintlik onsin is”.

via Nuus – Metterjare word hulle regte guite.

‘n Ander ek – eBoeke

Gertruida word Egidius Papier, n naam wat sy haarself toeeien wanneer sy maande na n motorkaping met geheueverlies in die hospitaal wakker word. Geskend en sonder heenkome beland sy op straat waar die bergies haar, in die kleurryke Afrikaans van hierdie gemeenskap, die kuns van oorlewing op straat leer. Haar innerlike wil om haar geheue te herwin en met haar mense herenig te word, word die dryfkrag agter hierdie sterk vrouekarakter in n roman wat, soos EKM Dido se ander werk, deurgaans met sy menslikheid ontroer en met sy humor vermaak.

via n Ander ek – eBoeke.

Bloedspoor

http://myafrikaans.com/bloedspoor.html

’n Reeksmoordenaar wat op die kampus begin maai het, lê sy slagoffers mooi uit, plaas ’n pragtige ruikertjie in die vermoorde meisies se hande en laat ’n klipstapel en offervuur op die toneel.

Iets herinner onrusbarend aan die rituele wat vermoedelik op die eeue oue terrein van Stonehenge voltrek is. Net so misterieus is die tyd wat die moordenaar kies om toe te slaan; telkens is daar ’n verband met die stand van die son en die maan. Llyn Morgan het pas haar nagraadse studie op die kampus aangepak. En die man wat haar in die biblioteek met ’n onverkrygbare boek help, bly haar gedagtes vul. Maar wie is hy? Buiten sy voornaam, weet sy niks van hom nie. Kan hy die moordenaar wees? Of het een van die dosente wat soveel belangstelling in Stonehenge het iets daarmee te doen? Llyn weet nie meer wie om te vertrou nie. Maar as daar een man is wat sy dolgraag wil vertrou, is dit juis hierdie misterieuse man wat haar pad langs gekom het.

via Bloedspoor.

Skaduself

http://myafrikaans.com/skaduself.html

Geen ma is perfek nie . . . In die tronk het ek baie tyd om te dink, en ek het nie altyd beheer oor waarheen my gedagtes dwaal nie. ’n Groot deel van die tyd dink ek teen wil en dank aan Clay: hoe lief ek hom gehad het, die foute wat ek gemaak het. So baie foute! My dogters. My seuntjie Joe. Maar my gedagtes is nie altyd helder nie. Ek dink deur gaas, deur filters. Om minuut na minuut, sekonde na sekonde toegesluit te wees het my laat besef dat ek al my hele lewe in ’n newel slyt. Party dae is daar ’n dik swart gordyn voor my, en net wanneer ek dit regkry om dit oop te trek sodat ’n klein bietjie lig inkom, val die gordyn weer toe en is ek weer in die donker. Die meeste mense wil weet wanneer alles begin het, en soms wonder ek ook. Thea Middleton is agter tralies vir ’n ondenkbare misdaad. Soos wat sy, haar man Clay en haar oudste dogter Sanusha hul stukkende lewens probeer heelmaak, vorm hul individuele verhale die stukke van ’n tragiese legkaart wat ewig by hulle sal spook.

via Skaduself.

Dit sal beter word

http://myafrikaans.com/dit-sal-beter-word.html

VIND HOOP

NET HIER

NOU DADELIK

“Die lewe maak seer. Tog is hierdie nie ’n boek oor seerkry en swaarkry nie. Dit vertel hoe pyn lyk, waar dit vandaan kom en waarheen dit met ons op pad is. Maar die fokus is op oorwinning en genesing.

“Natuurlik kan niemand swaarkry en seerkry ontsnap nie. Die lewe is nie regverdig nie en elke persoon sal mettertyd in ’n mindere of ’n meerdere mate pyn ervaar. Daarom nooi ek jou om ’n pad saam met my te stap – dat ons lyding kan uitoorlê met die oorwinning waarvan ons by Jesus geleer het.

“Die kerk is ’n plek van genesing, maar kos, medisyne, die natuur, kunswerke, berading, humor, en musiek kan ook mense help om heel te word. As jy dit regkry om God se mooi dinge raak te sien te midde van jou pyn, kan swaarkry jou ’n mooier mens maak.

“Stap saam en leer hoe jy jou kop kan regop hou wanneer die lewe jou druk. Vind uit hoe om gesond en mooi te leef, al gaan dinge moeilik. Laat hierdie boek toe om jou sterk te maak, sodat seerkry nooit jou innerlike krag en skoonheid by jou steel nie.

“Dit sal beter word!”

– Christina Landman

via Dit sal beter word.

Slagyster #eboek

Daar’s ’n moorddossier op inspekteur Kassie Kasselman se lessenaar . . . Van Nigeriese rebellegroepe, dwelmsluikhandel uit Kaapstad wat raak aan die Taliban, en polisiemolle met duister geskiedenisse moet Kassie – posseël- en boeremusiekliefhebber, alleenloper-speurder met ’n ernstige waarskuwing op sy diensrekord – sin maak. Iemand het sleg geknoei, maar hoe hoog op strek die kwaad? Slagyster is ’n debuut-spanningsverhaal deur ’n opwindende nuwe stem in die genre, en vir inspekteur Kasselman sal ons vorentoe weer ontmoet.

Al slaan Afrikaanse speurverhale deesdae soos padda­stoele op, is een debuut deurgaans aangeprys as “ ’n verrassing”, “verwikkeld” en “indrukwekkend”. Boonop is die oud-joernalis Rudie van Rensburg se Slagyster ’n deksels lekker leeservaring. Elmari Rautenbach vra hom uit in die Burger.

ER: Ongetwyfeld die hoogtepunt van jou debuut-speurroman Slag­yster is jou speurder. Deborah Steinmair beskryf hom in haar LitNet-resensie as: “Hy is geen Bond nie – sy drankie is groen Crème Soda; hy is middeljarig en maksimaal uncool.” Self skryf jy: “ ’n Skelrooi windjekker met ’n oliekol op die linkerbors hang sakkerig aan sy maer gestalte, die gestreepte blou dassie is kort ­geknoop, ’n stuk harige maag loer by die gekreukelde hemp uit waar een knoop ontbreek en wit sokkies steek uit onder ’n te kort swart langbroek.” Waar, o waar kom ­Inspekteur Kassie Kasselman ­vandaan?

RvR: Ek wou wegbeweeg van die tradisionele macho-speurder. Kassie is die onwaar­skynlike held: sosiaal on­beholpe, ietwat van ’n introvert, slordig, oorbehep met sy posseëlversameling en versot op boeremusiek. Sy groot ­voordeel is dat mense hom ­hopeloos onderskat, wat weer aan my ander moontlikhede bied as wat ’n skrywer sou hê met ’n konvensionele held.

ER: En het jy dit so bedoel dat ­Kassie dikwels die draer van humor is? In een toneel daag Kassie by die ondervraging van twee hovaardige Kaapse sakemanne op sonder ’n pen. Ná die tyd voel die man in sy baadjie se binnesak. “Kan jy glo die klein doos het my goue Parker ­gevat?!”

RvR: Ek probeer nie doelbewus humoristies skryf nie, maar Kassie se unieke persoonlikheid en gepaardgaande ­verstrooidheid help om dit soms natuurlik te laat gebeur!

ER: In die sogenaamde Goue Era, aan die einde van die 1920’s, het die Oxford-misdaadskrywer Monsignor Ronald Knox sy nou bekende ver­eistes vir die misdaadroman neer­gepen. Hierin sê hy onder meer die boef moet vroeg in die storie genoem word, maar daar mag nie gesê word wat in sy kop aangaan nie. Deon Meyer sê altyd daar moet ’n moord binne die eerste paar blaaie wees. Jy het sommer met die ­intrapslag ’n paar boewe en ’n paar dooies en daarvandaan gaan dit net rowwer. Het jy ooit bewustelik ­volgens die klassieke formaat van ’n speurroman geskryf?

RvR: Nee, ek wou een skryf wat verskil van enigiets wat ek nog in daardie genre gelees het. Die resepmatigheid van veral ­sommige Amerikaanse speurverhale het my juis dié besluit laat neem. Daarom dat ek ­Kassie ook relatief laat in die boek aan die leser voorstel.

 

via Slagyster.

Nuus – Skatkis van Afrikaanse boeke

http://myafrikaans.com/toeka/skatkisboeke.html

Myafrikaans.com en Skatskisboeke digitaliseer tans die ongelooflike skat van ou Afrikaanse sagtebandboeke. Die doel is om dit vandag te geniet maar dit ook vir die nageslag te bewaar. Suid-Afrika het ‘n baie ryk geskiedenis aan Afrikaanse sagteband verhale (foto en storie) met ‘n verskeidenheid van skrywers oor die afgelope eeu, maar inligting rondom die skrywers en boeke is uiters beperk.

Selfs ons argiewe het maar baie beperkte inligting rondom die boeke wat uitgegee is, veral boeke in die middel twintigste eeu. Hierdie projek poog dus om in die behoefte te voorsien, om sodoende nie net vir die versamelaar van waarde te wees nie, maar ook vir enige ander persoon wat belang stel om ons africana te bestudeer en geniet. Feitlik al die boeke het die pragtigste volkleur buiteblaaie.

Die reeks bestaan uit 60 storieverhale, meer as 700 enkel sagteband storieverhale en 39 verskillende fotoverhaal boek reekse, met amper 400 voorblaaie in die onderskeie reekse.

Die eerste eBoek in die Oerwaltvalk reeks wat beskikbaar is, is Goudstad van Skeba [EPUB] deur AP du Plessis.

via Nuus – Skatkis van Afrikaanse boeke.