Working in the Netherlands


Working in the Netherlands

Afrikaanse skrywer: Cor Dirks

Nuus – Afrikaanse skrywer: Cor Dirks.

Die afrikaanse skrywer Cor Dirks se gewilde Uile reeks waarmee baie groot geword het is nou as eboek beskikbaar.

Uile oud, maar nog lank nie koud

Leon Rousseau skryf in Rapport:

Vir almal wat 60 jaar gelede of minder kinders was, is dit groot nuus dat al Cor Dirks se Uile-boeke nou heruitgegee word. Die Uile van Kranskop,Die Uile en die rampokkers en Breuk onder die Uile is al op die rakke. Die Uile in die Kalahari het pas verskyn.

Drie van die vyf Uile, wat op werklike seuns gegrond is, het tot betreklik onlangs nog geleef.

Cor Dirks (oorlede in 2000) is in 1911, net mooi ’n eeu gelede, op ’n plaas naby Volksrust gebore. Sy volle voorname was Justus Cornelias. “Cornelias” is afgelei van sy ma se naam, Cornelia, vandaar Cor.

Die eerste paar Uile-boeke is in Potchefstroom geskryf toe hy koshuisvader was by die Hoër Volkskool, die ander van 1955 nadat hy hoof van die Hoërskool Linden in Johannesburg geword het. Hy en sy vrou, Ella (geb. Van Niekerk) het twee kinders gehad, Justus – tans ’n dokter in Barberton – en Elsje (De Jager), ’n weduwee wat in Johannesburg woon.

“In 1966, toe Mosambiek nog Portugees was, het ons en ’n paar ander gesinne ’n maand lank 400km noord van Maputo op ’n eiland in die Bazaruto-argipel gaan woon,” sê dr. Dirks.

Dié verblyf was die inspirasie vir Rooi-oog Geel-oog oor Russiese en Chinese spioene aan die Mosambiekse kus.

Uit kuiers in Botswana en Zimbabwe is boeke soos Die Uile langs die Limpopo en Die Uile in die Bosveld gebore.

“Die hipotese oor ’n verlore stad in die Kalahari het my pa baie jare lank geboei. Hy het die dagboek gehad van ’n Britse ekspedisie wat die stad in 1937 gaan soek het.”

Hoewel die Dirkse nooit die stad gevind het nie, het Cor Dirks, 30 jaar voor Wilbur Smith se The Sun God, al in Wadda van die woestyn daaroor geskryf.

In Wadda van die woestyn oorleef ’n tweeling die stranding van ’n skip en word deur Boesmans grootgemaak. Die seuntjie, Wadda, word ’n soort Tarzan-figuur wat avonture in verskillende dele van Suider-Afrika beleef.

Dirks het in 1973 afgetree toe hy 60 was en het in Johannesburg bly woon. Hy het begin werk aan die Joof-reeks, wat van 1977 tot 1988 verskyn het. Die boeke van ’n nuwe reeks, Die Otters, het tussen 1981 en 1989 verskyn.

Hoewel hy meer as 40 boeke geskryf het, die meeste daarvan baie gewild, het hy in sy lewe min erkenning ontvang. Die jaar voor sy dood is ’n Akademie-oorkonde darem op die Aardklopfees in Potchefstroom aan hom oorhandig.

“Ons was so bly dat hy darem ’n bietjie erkenning gekry het,” sê sy dogter. “En die lekkerste was dat dit oorhandig is deur een van die Uile, Vaatjie Botha.”

In daardie stadium het twee ander Uile nog geleef – Flip (in die werklike lewe dr. Philip Smith) en Hennie Pretorius (eintlik Putter).

Die kinderboekkenner Maritha Snyman beskou Die Uile as een van die vyf groot kinderboekreekse in Afrikaans (in: Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom). Die ander is Trompie (deur Topsy Smith), Saartjie (Topsy Smith onder die skuilnaam Bettie Naudé), Maasdorp (Stella Blakemore) en Keurboslaan (Theunis Krog, die skuilnaam van Stella Blakemore).

Al vyf die reekse het in die bloeityd van die Afrikaanse kinderboekreeks verskyn: Maasdorp (1932), Keurboslaan (1941), Die Uile (1950), Trompie (1950) en Saartjie (1953).

Dis in die Afrikaanse leser se geheue, sê Snyman.

Laat in die 20ste eeu is almal met welslae in omnibusse heruitgegee en weer in die 21ste eeu met Maasdorp wat in 2004 herdruk is, Trompie in 2006, Saartjie in 2006 en Keurboslaan in 2009, almal by Human & Rousseau in die suide.

En nou Die Uile by Protea Boekhuis in die noorde.

Maar noord, suid, lank lewe al dié reekse.

Leon Rousseau is ’n oud-uitgewer en skrywer van onder meer die Fritz Deelman-reeks waarvan nuwe uitgawes in 2004 begin verskyn het.

 Lees die berig http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Uile-oud-maar-nog-lank-nie-koud-20110825

Andre Beukes LLM

Andre Beukes LLM

André Beukes is an EU Management Consultant to international companies doing business in Europe. He provides clients with practical business support that makes a real difference doing business in the EU. “Put simply, I am here to help you meet your challenges. I believe in the importance of doing things correctly, meaning risks are reduced and problems are avoided.”

  • Facebook
  • LinkedIn

2 Comments

Leave a Comment