Skimme van Gister

Afrikaanse Eboek Skimme van Gister

Afrikaanse Eboek Skimme van Gister

Uittreksel uit ‘n nuwe eBoek van Piet Schoombie

‘n Jong man verloor sy werk as gevolg van die wêreldwye ekonomiese ineenstorting. Hy besluit om die geleentheid te gebruik om sy voorgeslagte se wortels op die ou familieplaas te gaan naspoor.

Die plaas is egter sedertdien in ’n wildplaas omskep en word as blyplek vir groepe jagters aangewend. Met hom en sy vroutjie se besoek, is hulle aanvanklik heeltemal alleen in die opstal. Gedagtig aan die plaasmoorde in die land, is hulle dus betreklik bang en gespanne. Tydens hulle verblyf, vind hulle ook baie meer as net familie wortels! Daar wag aangename verrassings, maar ook skrikwekkende gebeure op hulle. ’n Heerlike spannende avontuurverhaal wat lesers se aandag deurgaans sal vasvang.

Die ineenstorting van die Amerikaanse banke en ander finansiële instellings het
ekonomieë internasionaal soos ’n skokgolf getref. Die gevolglike wêreldwye resessie het
nywerhede en maatskappye se winste opgekerf en derduisende mense het hulle werk verloor.
Ek was een van dié ongelukkiges! Dat ek saam met baie ander in dieselfde hartseer bootjie
was, het weinig troos ingehou. Die positiewe sy was dat ek nog jonk, sterk en gesond was. ’n
Verdere plus punt was dat my vrou, Elsa, as ’n vryskut vanaf die huis gewerk het. Gevolglik
kon sy as grafiese tekenaar gewoonweg met haar verskillende kontrakte voortgaan. Sy skilder
ook wanneer daar tussendeur ’n tydjie beskikbaar was. Derdens was ons jonk getroud met
nog geen bykomende monde om te voed nie.
Om slegs op Elsa se inkomste aan die lewe te bly, het nogtans ’n fyn balanseertoertjie
geverg. Daar is wesenlik op die huishoudelike begroting besnoei. Ons het haar ligte motortjie
verkoop en slegs met my bakkie klaargekom. Gholf, fliek, teater en uiteet was net ’n vae
herinnering uit ons dae van melk en heuning. Die huishulp en tuindienste se kontrakte is
beëindig en hulle take is tussen ons twee verdeel. Ons het weer self in die kombuis gebak en
gebrou en opnuut uitgevind dat ons vir baie goedkoper steeds lekker kon eet.
Ons ouers aan beide kante het wonderlike ondersteuning gebied en met baie simpatie en
deernis gehelp waar hulle kon. Albei vaders moes egter ook maar spook en spartel om hulle
eie betrekkings gedurende dié moeilike tye te behou. Dit was gevolglik soos manna uit die
hemel toe ons uit ’n totaal onverwagte oord ’n meevallertjie kry. Van ons vriende se familie
se buitelandse vriende het ’n huurhuis vir drie weke tydens die Wêreldbekersokkertoernooi
gesoek. Hulle geldeenheid was baie sterker as die Suid Afrikaanse Rand en die huurgeld was
gevolglik wonderlik rojaal. Skielik was ons weer sonder ’n bankoortrekking, maar ook sonder
huisvesting! Dit was nogal ‘n skok om te besef dat ons vir ’n klompie weke letterlik op straat
sou wees.
Dit was in hierdie tyd dat dit by my opgekom het om die werklose en huislose toestand te
benut vir ’n safari na die binneland. Nie sommer enige safari nie, nee ’n soort pelgrimsreis
om my wortels te gaan naspoor. Ek het lankal die drang gehad om op my voorvaders se
voetspore te gaan stap. Elsa was by die eerste vermelding daarvan nie baie beïndruk nie. Die
knellende gedagte om noodgedwonge vir vier weke onder die voete van ons ouers te wees,
het egter die knoop deurgehaak. Nie een van ons twee het kans gesien om ander mense vir so
lank te verontrief nie. Ek kon haar ook verseker dat sy oorgenoeg tyd sou hê om haar
werkstukke steeds op die skootrekenaar te doen en per e-pos in te stuur. Sy sou boonop ook
nog geleentheid kry om te skilder.
Dinge het vinnig begin gebeur, nadat ons besluit het om wel die pad te vat. Die bakkie is
gediens, die kappie is opgeknap en so verander dat ons daarin kon slaap as dit nodig sou
wees. Net die nodigste klere en toerusting is ingepak. Ons het die teerpad van die kus na die
noorde met ’n lied in die hart aangedurf. Net om uit die stad weg te kom, was alreeds ’n groot
bonus. Eers toe ons so deur veld en vlei en oor berg en dal ry, het ons besef hoe stresvol die
voorafgaande tyd vir ons albei was. Ons het gelag en gesing en was uitgelate soos kinders
wat vir die eerste keer met vakansie gaan!
Ons het kuier-kuier voortgery en in twee karavaanparke oorgeslaap op die lang pad na die
noordelike binneland. My belangrikste reisgids na ons uiteindelike bestemming was my
oupa-grootjie se biografie, wat deur my oupa geskryf is. Dié grootjie en sy pa was albei
boere. Ek het gehoop om hierdie voorsate se spore op hulle toentertydse plaas op te tel en
sodoende my eie wortels te vind en te ervaar. Wat dit presies was wat ek sou vind, het ek nie
geweet nie. Ek was egter seker dat ek sou weet wanneer ek dit raakloop.
Op die dorpie naaste aan die plaas het ek navraag gedoen en aanwysings gevra. Daar was
teleurstellende nuus. My grootjie se plaas het nie meer as ’n boerdery-eenheid bestaan nie.
Dit was slegs ’n onderdeel van ’n baie groter wildreservaat, wat uit ’n aantal plase saamgestel
is. Met die ontvolking van die platteland is dié eiendomme deur ’n konsortium sakemanne
opgekoop. Hulle het dit omskep in ’n reservaat met ’n dertigtal wildsoorte wat oor duisende
hektare weiveld versprei was. Groepe jagters van oorsee en vanuit die stede kom dan met die
nodige jaglisensies daar bokke en ander wildsoorte skiet.
Die verskillende plase se ou opstalle word as kampe gebruik waar die jagters tuisgaan. My
probleem was om te weet watter opstal dié van my oupagrootjie se plaas, Helderfontein, was.
Ek het by die bestuurder van die reservaat vir hulp aangeklop. Hy kon my nie help nie, want
die verskillende opstalle is as jag kampe met verskillende wild name aangedui en nie volgens
die plase se geregistreerde name nie. Hy het my van ’n kaart van die reservaat voorsien en my
sterkte toegewens. Ons het ook goedkeuring gekry om kosteloos in enige van die kampe tuis
te gaan, aangesien daar vanweë die sokkertoernooi baie minder jag besprekings was. Dit was
wonderlike nuus vir ’n egpaar met ’n skraps inkomste en sonder ’n eie dak vir die
onmiddellike toekoms.
Ons het die reservaat se stowwerige grondpaaie met gretige afwagting aangedurf en van
opstal tot opstal gery. Die uitgestrekte grasvelde met alleenstaande klipkoppies en berge op
die horison, was asemrowend mooi. Elsa was haastig en opgewonde om dit op haar
skilderdoeke vas te lê. Elke plaasopstal waarby ons ingedraai het, is beoordeel volgens die
swart en wit foto’s in my grootjie se biografie. Die eerste twee was definitief nie waarna ons
gesoek het nie. Die son het reeds laag in die weste gesak toe ons die derde opstal bereik het.
Ook dit het nie na die ware Jakob gelyk nie.
Ek was op die punt om teleurgesteld by die werf uit te ry, toe iets my aandag getrek het.
Ongeveer ’n honderd meter Wes van die plaashuis was daar ’n klompie ou bouvallige
buitegeboue. Die vervalle sandsteen gewel, met geroeste dubbele sink deure van ’n eertydse
waenhuis, het ooreengestem met ’n foto in die biografie. Die hemelhoë bloekombome agter
die woonhuis het ook skielik in plek geval. Ons het uiteindelik by my wortels uit die gryse
verlede gearriveer!
Ek het die reservaatbestuurder se sleutels gebruik om toegang tot die huis te verkry. Daar
was vier slaapkamers, ‘n sitkamer en ’n ten volle toegeruste kombuis, met onder meer ’n
gasstoof en gas yskas. Weens die afwesigheid van elektriese krag was daar in elke vertrek ’n
gaslamp. Die meubels was oud maar in goeie toestand. Uiteenlopende ontwerpe en fabrikate
van stoele, tafels en beddens het daarop gedui dat dit oral oor opgekoop is om die huis vir die
jagters in te rig. Die houtvloere was nog verbasend stewig en kraakvry, maar plek-plek het
die afgetrapte planke getuig van baie voete wat oor meer as ’n honderd jaar daar geloop het.
Die bakkie is in groot haas afgelaai om nog voor donker die huis en werf verder te verken.
Ek kon steeds nie verstaan dat ek nie die huis vanaf die ou foto’s herken het nie. Buite in die
skemer het ek wel die antwoord gevind. Teen die klipfondasie aan die suidekant van die huis
was daar ’n datum van 1880 in sement syfers vasgelê. Dit het geklop met die datum in die
biografie. By nadere ondersoek kon duidelik gesien word dat die oorspronklike oop stoep aan
die noordekant van die plaashuis later jare met vensters toegebou is om as ’n son vertrek in
die koue winters te dien. Dit was hierdie veranderde fasade wat gemaak het dat ek die
plaashuis nie dadelik herken het nie
Toe ek weer in die kombuis terugkom, was Elsa reeds besig om by lamplig ’n ligte
aandete voor te berei. Die donker het soos ’n lamferlap teen die vensterruite gelê en buite op
die werf was dit grafstil. Nie eers ’n kriekie in die lang gras of’ ’n padda by die watervoor
was hoorbaar nie. In die windlose winteraand was die natuur ontneem van alle naggeluide. Ek
kon ‘n vreemde spanning en ongemak by Elsa aanvoel. Sy het kort-kort na die donker
kombuisvensters sonder gordyne gekyk en het ook ’n paar keer gevoel of die buitedeur tog
wel gesluit was.
Ek het haar ’n gerusstellende drukkie gegee en gehelp om die tafel te dek. Diep binne in
was ekself egter ook kriewelrig en senuweeagtig. Ons albei het in die stad grootgeword en die
gitswart donkerte op die werf en bonatuurlike nagstilte was vir ons vreemd en selfs
vreesaanjaend! Ons was ook terdeë bewus daarvan dat daar in ’n radius van ongeveer tien
kilometers geen mense gewoon het nie. Ons het verder vroeër die middag al agtergekom dat
daar nie selfoonontvangs op die plaas was nie. Die wete van die landswye plaas rooftogte en
moorde op boere het die onheil gedagtes by ons net verder aangeblaas!
Ons het nie juis veel van ’n eetlus gehad nie, en nadat ons die skottelgoed opgewas het, is
ons kamer toe. Dié besondere slaapkamer is gekies omdat dit ’n eie aangrensende stort,
wasbak en toilet gehad het. In my grootjie se dae was daar natuurlik nie ’n badkamer nie.
Beperkte was- en toiletgeriewe is eers later vir die jagters aangebou. Die kamer was ruim en
goed gemeubeleer, maar dit het ongelukkig geen sleutel vir die binnedeur gehad nie.
Gedagtig aan die pieperige slotte aan die plaashuis se buitedeure, was ’n geslote kamerdeur
’n absolute vereiste vir ’n goeie nagrus. By verdere ondersoek het dit geblyk dat ook geeneen
van die res van die slaapkamers sleutels gehad het nie.
Elsa het my vraend en met beangste oë aangekyk. “Moenie bekommerd wees nie,” het ek
haar gekalmeer. “’n Boer maak altyd ’n plan.” Ek het op daardie stadium alles behalwe soos
’n boer gevoel en ook nie juis baie planne gehad nie. In die rolprente sit hulle gewoonlik ’n
stoel skuins onder die deur se knop. Daardie deur se handvatsel was ongelukkig te hoog vir
enige van die stoele in die huis. Die enigste ander uitweg was om ’n swaar meubelstuk voor
die deur te skuif. Die beste wat ek kon kry, was een van die bedkassies. Dit was egter nie
swaar genoeg nie en kon maklik met die deur van buiteaf weggeskuif word.
My verstand het toe reeds in die hoogste versnelling gewerk. Ek het verder probeer deur
my briewetas op die bedkassie onder die handvatsel te plaas, maar dit was net ’n paar
sentimeter te laag om die handvatsel mee vas te pen. My soektog deur die plaashuis het niks
opgelewer om die gaping op die briewetas te vul nie. Ek wou net moed opgee toe my oog op
die Bybel op die tweede bedkassie val. Dit het wonderlik en stewig as wig onder die deur se
handvatsel ingepas. Geen indringer sou van buiteaf die handvatsel kon beweeg nie. Elsa het
merkbaar ontspan en ekself was nie net verlig nie, maar nogal heel trots op my boere plan.
Die kamer se hout venster het van die outydse opskuiframe gehad. Daar was geen
diefwering geïnstalleer nie en slegs ‘n piepklein knippie het verhoed dat die onderste raam
van buite opgeskuif kon word. Dit het my egter minder as die kamerdeur gepla. As iemand by
die venster sou probeer inkom, sal die geraas my wel betyds wakker maak. Ná al die
opwinding en plannemakery was ek wawyd wakker. Elsa was egter gedaan en het gou styf
teenaan my aan die slaap geraak. Ek het nog in my grootjie se biografie rond geblaai en plekplek
‘n paar paragrawe gelees.
Die plaas en omgewing was daarvolgens ryk aan geskiedkundige gebeure. Die Anglo
Boereoorlog het twintig jaar ná die huis gebou is en tien jaar na my oupagrootjie se geboorte,
uitgebreek. Die volwasse manne, en selfs tienerseuns, waaronder my groot-grootjie, het almal
die wapen teen die Engelse magte opgeneem en slegs die vroue en kinders het op die plase
agtergebly. Volgens Brittanje se beleid van verskroeide aarde is die vroue en kinders
mettertyd na konsentrasiekampe weggevoer en die plase verwoes en die vee doodgemaak.
Die boerekrygers sou sodoende nie gereeld hulle voedselvoorrade vanaf hulle eie plase kon
aanvul nie.
My grootjie se plaas het ook onder die oorlogsvandale deurgeloop. Die plaashuis is
genadiglik nie afgebrand nie. Daar word vertel dat ’n boere patrollie per toeval op die soldate
afgekom het voor hulle met die brandstigting kon begin. Hulle het halsoorkop gevlug, maar
twee van hulle is daar op die werf doodgeskiet. Ironies genoeg is hulle, volgens die biografie,
tussen my voorsate in die familiekerkhof begrawe. ’n Besoek aan dié kerkhof was juis op my
program vir die volgende dag.
Sommige van die omgewing se vroue en kinders het betyds na die omliggende berge
gevlug. My oumagrootjie se ma, dus vier geslagte voor my, was onder dié wat vir die duur
van die oorlog in die berge geskuil het. My oupagrootjie, toe ongeveer tien jaar oud, was
saam met sy ma. Hulle het mielie- en koringmeel, droë vrugte, biltong, pluimvee en selfs
melkbokke met hulle saamgeneem. Sodoende is hulle die gruwels van die konsentrasiekampe
gespaar. Nie dat die ontberings in die primitiewe grotte en holkranse van die bergvestings
maklik was nie!
Ek het laatnag die biografie weggesit en die gaslamp doodgemaak. Skielik het die
oorweldigende donkerte my weer opnuut na my asem laat snak. Ek het nog vir ’n lang ruk so
met oop oë in die stil swart nag gelê en luister na die geluide van ’n vreemde woonhuis. Daar
was die gekraak van die dakplate in die winterkoue en êrens ’n deur- of vensterraam wat in
die ligte nag briesie geratel het.

Kliek hier om die Afrikaanse eBoek te koop

Image: FreeDigitalPhotos.net

Met betrekking tot

http://linkd.in/HxkpjJ

Posted in Afrikaanse eboeke

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Argiewe

Kliek hier om alles per vonkpos te ontvang

Join 639 other followers

  • Nuutste eBoeke 2014-04-17
    Die pad byster Nicola Hanekom vang die gehoor se aandag van die begin en weier om dit te verloor. Sy hou die verskillende storielyne mooi bymekaar totdat dit saam opeindig. Nicola oortuig jou terwyl sy jou skok. Jy is spraakloos as jy uitstap. Geskok, maar ook hulpeloos. Die toneelstuk is 'n meesterstuk met Nicola die bes moontlike skilder. – James de V […]
  • Tuis by Afrikaans
      AllesAfrikaans is ook ‘n koffiekroeg of ‘n Saterdagoggend-mark. Die plek waar jy na verlore ou langspeelplate soek, bekendes ontmoet en nuwe grille ontdek. ‘n Plek waar ‘n iemand, verlore in eie gedagtes, deur vergeelde boeke blaai en waar ‘n vrou agter die toonbank van ‘n stalletjie staan en koeksisters verkoop. Dit is AllesAfrikaans. Ons huis. Ons kultuu […]
  • Deon Opperman - Donkerland
    Kerneels Breytenbach het met Deon Opperman oor die roman Donkerland gesels. Donkerland is ook een van die grootste TV-gebeurtenisse van 2013, die epiese kykNET-reeks wat 158 jaar van Afrikaner-geskiedenis in 13 episodes teleskopeer. Een van die mees ambisieuse skeppings in Opperman se loopbaan as dramaturg en draaiboekskrywer is deur Breytenbach herskryf in […]
  • Fokus op Sophia Kapp
    Sophia Kapp skryf oor die liefde, tussen die held en die heldin, maar ook liefde tussen ouers en kinders, susters, en vriendinne. En oor al die ander aspekte wat ook deel is van liefdesverhoudings – onsekerheid, hartseer, verlies, verraad, egskeiding, vertroue, vervulling, geborgenheid. Daardeur wil sy vrouekarakters skep wat vir moderne Afrikaanse lesers ge […]
  • Plesierengel #eBoek
      Koop die eBoek hier! Tristan Hansen is ’n man wat R15 000 per nag vra en die land se mees invloedryke en wêreldwyse vroue soveel plesier gee dat hulle terugkom vir meer. Maar wanneer een van sy kliënte haar eie lewe neem, verander die plesierengel in ’n doodsengel, en bely sy kliënte die een na die ander wat agter toe deure gebeur het. Maar waarom doen hy […]
  • Onse Vaders, Afrikaanse eBoek
    Koop die eBoek hier! Resensie Kerneels Breytenbach1 JC Kannemeyer verwys in sy Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 na die “gespletenheid tussen hoop en wanhoop oor die nuwe Suid-Afrika, die twee gesigte wat die land aan sy inwoners toon, ’n land waarin daar naas die nuwe vryheid daagliks spreke is van moord en geweld en plase wat vervalle murasies word.”’n M […]
  • Pad na hart #eBoek
    Koop die eBoek hier! Iets anders! François Bloemhof slaan ’n nuwe rigting in met ’n roman gebaseer op ’n draaiboek deur die bekende akteurs Ivan Botha en Donnalee Roberts. Hulle speel in die gelyknamige rolprent en dié pad van liefde het meer as net ’n paar kinkels en draaie.  
  • Video: Klimtol
    Die verweefde verhale van Ludo Loeloeraai, die yo-yo-kampioen, Snaartjie Windvogel (die vioolspeler uit In stede van liefde, wat op Matjiesfontein grootword en as ’n sekswerker in die Kaap beland), Elsabé en Doris Steyn, en Eenslie Maree, die Adelbors, vorm die basis van hierdie langverwagte roman. Dis hulle almal se geskiedenis, maar veral dié van Ludo, wat […]
  • Laaste dans, Drienie #eBoeke
    Toe Oscar Pistorius blosend in die gange van die Brooklyn-polisiestasie by luitenant Muller Joubert verbyloop, was Muller seker dat daar in jare nie so 'n bisarre saak was nie en daar nie gou weer so een sou wees nie.  Hy was verkeerd. Daar was reeds. En hy was in die middel daarvan. In die omgewing van die liefde is niemand se hart veilig nie; dit weet […]
  • Marzanne stuur shalom uit Israel #eBoeke
    Koop die  eBoek Granate bloei in Jerusalem HIER! Marzanne was die vertaler van die Zion Chronicles-boekreeks en dit het haar gemotiveer om Israel te besoek. Binne die bestek van twee en ’n halwe jaar het sy Israel sewe keer besoek. Ervarings en waarnemings op hierdie besoeke het die grondslag gelê vir haar volgende roman, Granate bloei in Jerusalem, wat in 2 […]
Pinterest

Andre Beukes

myafrikaans.com

Flickr Photos
More Photos
Goodreads
Webring
Powered by WebRing.
This site is a member of WebRing.
To browse visit Here.
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 639 other followers

%d bloggers like this: